Winnie siedend oor Huisgenootvoorblad

Image

You/Huisgenoot-voorblad

ANC-parlementslid Winnie Madikizela-Mandela het Suid-Afrikaners dringend gevra om Caster Semenya, 'n hermafrodiet volgens 'n Australiese dagblad, te ondersteun.

"Ek luister na die nuus. Ek is verskriklik seergemaak deur wat ek hoor. Die arme kind is 'n slagoffer hiervan en dit is nie deur haar toedoen nie," het Madikizela-Mandela Vrydag aan The Star gesê.

"Ek dink dis alle Suid-Afrikaners se verantwoordelikheid om agter hierdie kind te staan en vir die res van die wêreld te vertel sy bly ons heldin en niemand kan dit van haar wegvat nie," het sy gesê.

"Ek kan nie verstaan hoe enige redelike mens hierdie kind kan blameer vir 'n biologiese probleem wat nie haar skuld is nie."

Die Sydney Morning Herald het Vrydag berig dat mediese verslae bewys het dat die 18-jarige interne testikels het wat groot hoeveelhede testosteroon vervaardig.

Volgens AP bewys die mediese verslae dat sy 'n hermafrodiet is.

"Moeders regdeur die land, elke ma en ouma, moet opstaan en die moeder van hierdie kind ondersteun. Sy het ons morele ondersteuning nodig. Ons moet haar vertel hoe trots ons op haar is. Dit maak nie saak hoe sy lyk nie."

Madikizela-Mandela het ook die plaaslike You/Huisgenoot uitgesonder vir kritiek. Die tydskrif het 'n kruiperige poging aangewend om Semenya op die voorblad as 'n vrou aan te bied. Madikizela-Mandela het gesê die voorblad maak 'n "karikatuur" van die atleet.

"Dit is die heel wreedste poets wat enige mens op 'n ander kan uithaal," het sy van die voorblad gesê.

Semenya is vir 'n geslagstoets gestuur nadat sy 'n goue medalje in die 800 m verlede maand in Berlyn, Duitsland, gewen het.

погружной насос дляФільчаков прокурор