Dwelmbendegevegte in die Wes-Kaap raak warm

Riah Phiyega
Riah Phiyega

Die dwelmbendegevegte in die Wes-Kaap raak warm. Genl. Riah Phiyega sal egter in haar pos as polisiehoof aanbly terwyl die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) klagte van regsverydeling teen haar ondersoek.

Die ondersoek spruit uit beweerde vriendskapsbande van lt.genl. Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiehoof, met ’n dwelmbaas, waarin Phiyega glo geïmpliseer word

Phiyega word daarvan beskuldig dat sy die Wes-Kaapse polisiekommissaris oor ondersoeke teen hom gewaarsku het.

Phiyega se teenstanders hoop daar is gronde vir skorsing onder die Wet op Arbeidsverhoudinge. As sy skuldig bevind word hoop hulle sy sal summier afgedank word en formeel aangekla word van dwarsboming van die gereg.

Waarnemende direkteur van Opod, Koekie Mbeki het gesê die besluit om die saak te ondersoek was in lyn met die wet.

“Ons verwag om die ondersoek te voltooi binne drie maande. Phiyega verwelkom die ondersoek,” het haar woordvoerder Lt.genl Solomon Makgale gesê.

“Die nasionale kommissaris hou nog steeds vol dat sy geen misdaad gepleeg nie,” het hy gesê.

Volgens berigte het Phiyega Lamoer by drie geleenthede gewaarsku dat sy bewus was dat hy ondersoek word.

Die Sunday Independent het berig dat hulle telefoongesprekke wettig afgeluister is deur misdaadintelligensie-agente wat Lamoer se oproepe afluister.

Hy het na bewering bande met ‘n Kaapse dwelmhandelaar en bekende sakeman.

Makgale het gesê Lamoer het in Julie 2012 self die ondersoek aangevra en was dus nog altyd bewus van die ondersoek. Hy het gesê die ondersoek was egter in geen stadium openbare kennis nie.

Hy sê Lamoer was verbaas toe hy uitgevind het dat ‘n politieke party ook bewus is van so ‘n saak.

Phiyega het vroeër gesê dit is “interessant” dat die aantygings teen haar opgeduik het kort ná haar besluit om die voormalige waarnemende misdaadintelligensiebaas Maj.genl. Chris Ngcobo op spesiale verlof te plaas.

Ngcobo is op spesiale verlof geplaas ná ‘n keuringsproses teenstrydighede in sy kwalifikasies gevind het.

Phiyega en generaals in misdaadintelligensie het mekaar daarna van wanvoorstelling en verdagmakery beskuldig oor ’n ondersoek deur die Valke en misdaadintelligensie na die beweerde vriendskapsbande van Lamoer, Wes-Kaapse polisiehoof, met ’n dwelmbaas, asook beweerde korrupsie.

Intussen het die Pietermaritzburgse landdroshof Dinsdag gehoor dat Maj.genl. Bethuel Mondli Zuma in die toilet weggekruip het om te verhoed dat ‘n alkoholtoets op die aand toe hy in hegtenis geneem is, geneem word.

‘n Padverkeertoesighouer Zain Mahomed het getuig in Zuma se verhoor .

Vorige getuienis het getoon dat Zuma se bloedalkoholvlak 3,5 keer die wettige perk was, maar dat die toets nie geldig was nie in die hof.

Zuma sou Gauteng se nuwe provinsiale kommissaris van polisie geword het, maar is ure nadat hy aangestel is deur die nasionale kommissaris van polisie Riah Phiyega afgedank toe dit blyk dat die saak teen hom hangende is.