MIV onder gay mans wêreldwyd is buite beheer sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).
Die WGO het aanbeveel dat selfs gesonde seksueel aktiewe gay mans ook antiretrovirale behandeling behoort te neem.
“Die epidemie het gewoon ontplof,” het Gottfried Hirnschall, hoof van die WGO se MIV-departement, Vrydag in Genève, Switserland gesê.
Volgens hom kan antiretrovirale medikasie sowel as kondome die kans om MIV op te doen met tot 25% verminder. Dit kan uiteindelik keer dat ‘n miljoen gay mans oor die volgende 10 jaar MIV/Vigs opdoen.
‘n Jonger generasie glo antiretrovirale medikasie kan hulle aan die lewe hou as hulle besmet raak en daarom raak hulle roekeloos, sê Hirnschall.
Hul kans om MIV op te doen is tans 19 keer groter as in 1980 toe daar geen toegang tot gevorderde navorsing oor die virus en antiretrovirale medikasie was nie.
