Noord-Korea sê die land het ’n kragtige waterstofbom met welslae getoets, het AP berig.
Hierdie uitdagende en verrassende stap, indien bevestig, sal ’n reusestap in Pjongjang se soeke na verbetering in sy steeds beperkte kern-arsenaal wees.
Die aankondiging is oor die staatsmedia gedoen en is gevolg deur feesvieringe in die strate van Pjongjang. In Seoel en elders in die wêreld is kommer op hoë vlakke uitgespreek.
Suid-Korea se pres. Park Geun-hye het opdrag gegee dat sy weermag die land se verdediging saam met Amerikaanse magte versterk.
Washington bly skepties oor Noord-Korea se aansprake oor waterstofbomme, wat veel kragtiger en baie moeiliker as kernbomme is om te vervaardig.
