VSA gekritiseer oor Bhutto-sluipmoord

Image

Benazir Bhutto

Die sluipmoord op Benazir Bhutto het reeds wêreldwye reaksie ontlok en die staatshoofde van verskeie lande het hul afkeer daarvan uitgespreek. Maar toenemend word die VSA gekritiseer vir die gebeurtenis.

Die terugkeer van me. Bhutto na ʼn omgekrapte Pakistan is gesien as Washington se manier om druk op die Pakistanse president, Pervez Musharraf, uit te oefen. Binne die globale politieke spel was hy besig om na China se kant oor te hel met die bou van ʼn nuwe hawe in Gwadar waardeur dié land toegang tot die Arabiese see en die strategiese Golf van Oman waardeur die wêreld se olie vloei, sou verkry. China is ook besig om ʼn snelweg deur Pakistan na die hawe te bou.

Volgens ʼn voormalige segsman vir Bhutto en tans professor aan die Bostonse universiteit, Hussein Hakkani, kan Washington indirek geblameer word vir Bhutto se gebrek aan veligheid. Hy sê: “Mense soos ek het al spesifieke versoeke aan Amerikaanse amptenare gerig om in te gryp en het gevra vir duidelike veiligheidsmaatreëls om vir haar getref te word, maar hulle het verkies om op die Musharraf-regering te vertrou.” VS-ampternare het gesê hulle was onwillig om in ʼn ander land se huishoudelike sake in te meng en wou ook nie Washington se stempel van goedkeuring aan Bhutto gee nie.

Hakkani meen egter dat Musharraf, bowenal, vir Bhutto se dood geblameer kan word. “Dis heel duidelik dat Musharraf geen verkiesing wil hê nie – u kan my hieroor aanhaal – dit was hy wat enigeen wat hom of sy mag bedreig het uit die weg geruim wou hê.” In Oktober het Hakkani aan die Amerikaanse kongres gesê dat VS-hulp aan Pakistan vir te lank aan dei Pakistanse militêre regering verskaf is. “Sedert 1954 is byna $21 miljard aan hulp aan Pakistan gegee,” het hy aan die parlementêre komitee vir gewapende dienste gesê. “Hiervan is $17.7 miljard tydens militêre regering verskaf en slegs $3,4 miljard is aan Pakistan en die burgerlike regering oorhandig.”

Benazir Bhutto se terugkeer vanuit Doebai na Pakistan is gesien as ʼn regstreekse Amerikaanse ingryping in Pakistan. Maar terwyl Washington in die openbaar die deugde van demokrasie besing het en gehoop het dat Bhutto se terugkeer kon lei na magsdeling met Musharraf, was die VSA ook duidelik senuweeagtig oor die gedagte dat Musharraf geheel en al van die politieke toneel moet verdwyn. So iets sou tot presies die soort onstabiliteit in die land lei wat nou na Bhutto se sluipmoord gevrees word. Nie net is Pakistan die wêreld se grootste Moslemland nie, met elemente van Al Kaida en die Taliban wat wettelose bergagtige dele in die noordweste beheer, maar dit is ook die enigste Islamitiese staat met kernwapens. En hoewel Washington in die openbaar volhou dat Pakistan se kernwapens veilig is, is daar privaat kommer oor dié wapens, kommer wat ná Bhutto se sluipmoord gaan toeneem.

Sommige mense meen ook dat Bhutto ʼn doodswens gehad, aangesien sy bewus was van al die radikale Islamitiese elmente in die land wat teen haar terugkeer gekant was. Op 18 Oktober, die dag waarop sy na haar geboorteland teruggekeer het, het ʼn selfmoordbom in Karachi ontplof en meer as 140 mense gedood. Volgens Arsalan Iftikhar, ʼn bydraende redakteur van die tydskrif Islamica: “As jy die misdadige en korrupte in dieselfde kamp het, skep dit vreemde bedmaats. Op ʼn manier was Benazir op ʼn martelaarsending. Sy was gewillig om haar lewe vir die demokrasie op te offer.”

ʼn Voormalige vierstergeneraal in die Amerikaanse weermag, Anthony Zinni, het die gedagte dat Amerika vir Bhutto se veiligheid verantwoordelik was en haar sluipmoord kon verhoed het, verwerp. “Wil ons hê dat Blackwater (die Amerikaanse veiligheidsfirma in Irak) haar moet beskerm?” het hy gevra. “Ons het Pakistan verloor – in die mate waartoe ons dit verloor het en ek sou die land nog nie heeltemal afskryf nie – tydens die eerste Afghaanse oorlog, toe Washington nie die Afghan-Pakistangrens beskerm het nie. Ons het hulle daar in die steek gelaat. Hoewel ek geen ondersteuner van die Bush-regering is nie, kan mens nie dié regering blameer vir ʼn situasie wat hulle van die voriges geërf het nie.”

купить липецк уборочная техника, инвентарьтопкарго