Volgens ʼn voormalige segsman vir Bhutto en tans professor aan die Bostonse universiteit, Hussein Hakkani, kan Washington indirek geblameer word vir Bhutto se gebrek aan veligheid. Hy sê: “Mense soos ek het al spesifieke versoeke aan Amerikaanse amptenare gerig om in te gryp en het gevra vir duidelike veiligheidsmaatreëls om vir haar getref te word, maar hulle het verkies om op die Musharraf-regering te vertrou.” VS-ampternare het gesê hulle was onwillig om in ʼn ander land se huishoudelike sake in te meng en wou ook nie Washington se stempel van goedkeuring aan Bhutto gee nie.
Hakkani meen egter dat Musharraf, bowenal, vir Bhutto se dood geblameer kan word. “Dis heel duidelik dat Musharraf geen verkiesing wil hê nie – u kan my hieroor aanhaal – dit was hy wat enigeen wat hom of sy mag bedreig het uit die weg geruim wou hê.” In Oktober het Hakkani aan die Amerikaanse kongres gesê dat VS-hulp aan Pakistan vir te lank aan dei Pakistanse militêre regering verskaf is. “Sedert 1954 is byna $21 miljard aan hulp aan Pakistan gegee,” het hy aan die parlementêre komitee vir gewapende dienste gesê. “Hiervan is $17.7 miljard tydens militêre regering verskaf en slegs $3,4 miljard is aan Pakistan en die burgerlike regering oorhandig.”
Benazir Bhutto se terugkeer vanuit Doebai na Pakistan is gesien as ʼn regstreekse Amerikaanse ingryping in Pakistan. Maar terwyl Washington in die openbaar die deugde van demokrasie besing het en gehoop het dat Bhutto se terugkeer kon lei na magsdeling met Musharraf, was die VSA ook duidelik senuweeagtig oor die gedagte dat Musharraf geheel en al van die politieke toneel moet verdwyn. So iets sou tot presies die soort onstabiliteit in die land lei wat nou na Bhutto se sluipmoord gevrees word. Nie net is Pakistan die wêreld se grootste Moslemland nie, met elemente van Al Kaida en die Taliban wat wettelose bergagtige dele in die noordweste beheer, maar dit is ook die enigste Islamitiese staat met kernwapens. En hoewel Washington in die openbaar volhou dat Pakistan se kernwapens veilig is, is daar privaat kommer oor dié wapens, kommer wat ná Bhutto se sluipmoord gaan toeneem.
Sommige mense meen ook dat Bhutto ʼn doodswens gehad, aangesien sy bewus was van al die radikale Islamitiese elmente in die land wat teen haar terugkeer gekant was. Op 18 Oktober, die dag waarop sy na haar geboorteland teruggekeer het, het ʼn selfmoordbom in Karachi ontplof en meer as 140 mense gedood. Volgens Arsalan Iftikhar, ʼn bydraende redakteur van die tydskrif Islamica: “As jy die misdadige en korrupte in dieselfde kamp het, skep dit vreemde bedmaats. Op ʼn manier was Benazir op ʼn martelaarsending. Sy was gewillig om haar lewe vir die demokrasie op te offer.”
