Vryheidsdag sonder vryheid

ʼn Johannesburgse Engelstalige koerantgroep het oor die lang naweek ʼn meningsopname oor Vryheidsdag op hul webwerf geloop. Die vraag was: Het jy vry gevoel op Vryheidsdag?

Meer as die helfte (58%) het “nee” geantwoord, terwyl 31% se reaksie was: “wie gee om?” Slegs 11% van respondente het “ja” geantwoord.

Dié menings verskaf ʼn aanduiding van hoe min Suid-Afrika se mengelmoes inwoners omgee vir die dag wat by gebrek aan enige ander datum as nasionale dag beskou word. Veral in die Afrikanergemeenskap word die sogenaamde Vryheidsdag met onverskilligheid, sinisme en selfs vyandigheid bejeën.

Vryheid sonder inhoud is geen vryheid nie. Hoewel Suid-Afrika oor ʼn liberaal-demokratiese grondwet beskik, word feitlik alle regte daarin daagliks geskend. Die reg op lewe, vryheid van assosiasie, vryheid van spraak, die reg om mens se eie taal en kultuur te gebruik, vryheid van diskriminasie op grond van ras of afkoms, dit alles bestaan net gedeeltelik of glad nie in die huidige Suid-Afrika nie.

Dat die inwoners van Suid-Afrika so afsydig staan teenoor hul veronderstelde nasionale dag, is daarom nie verbasend nie.

Dit sou meer sin maak om die dag geheel en al af te skaf en die verskillende volkere, nasies en etniese groepe wat die land bewoon toe te laat om hul eie nasionale dae te vier.

Vele Afrikaners voel steeds patrioties oor 31 Mei, die dag toe die Vrede van Vereeniging gesluit is, maar ook die datum waarop die Derde Republiek in 1961 uitgeroep is. Afrikaners behoort op dié dag bymekaar te kom om oor hul verlede en toekoms te besin. Dit kan selfs internasionaal deur Afrikaners wat tans regoor die aardbol versprei is, gevier word.

Terwyl Vryheidsdag in die vergetelheid versink as net nog ʼn dag van lae produktiwiteit in Suid-Afrika, kan die glorie van Republiekdag onder ons mense herleef.

самовыравнивающиеся смеси купитьЛобановский