Die vrou van die Suid-Afrikaner, Erich Heine (41) wat vermis word nadat vlug 447 van Air France oor die Atlantiese Oseaan vermoedelik verongeluk het, is steeds vol hoop dat haar man lewe.
Alet Heine het Woensdag in 'n onderhoud gesê sy is moeg gedink. "Daar is nog steeds geen nuus nie, maar ek het op CNN gesien dat geen wrakstukke nog gevind is nie. Ons hoop steeds."
Heine, vader van drie dogters, een van ses jaar en 'n tweeling van vier, woon die afgelope jaar in Rio de Janeiro waar hy die Duitse staalmaatskappy ThyssenKrupp se eenheid in Brasilië bestuur, het Beeld berig.
Volgens die Star koerant het Heine se loopbaan by Iskor begin en is hy bevorder tot algemene bestuurder. Iskor is later deur ArcelorMittal SA.oorgeneem.
Sy broer Neil het aan geselsradio 702 gesê Erich het 'n Duitse sowel as Suid-Afrikaanse paspoort gehad en het drie jaar lank in Duitsland gewerk.
Dit is 'n baie moeilike tyd vir sy gesin, het hy aan die radio gesê.
Brasiliaanse owerhede het wrakstukke in die Oseaan opgemerk in die gebied waar die vliegtuig Maandag vermis geraak het.
