Omtrent 8-uur Dinsdagaand is 'n vragmotor wat sowat 3,5 miljoen rand se vrag gehad het deur vier mans wat soos polisiemanne aangetrek was, gekaap. Die gewapende mans het met 'n Corsa-bakkie gery met 'n bloul ig op die dak,toe hulle die vragmotor naby Delmas voorgekeer het, het superintendent Abie Khoabane gesê.
"Nadat hulle die vragmotor laat stilhou het, het hulle die bestuurder daarvan beskuldig dat hy oor 'n stopstraat gery het. Drie het wapens op die bestuurder gerig en hom agter in die vragmotor toegemaak," het Khoabane gesê.
Die mans het hom sowat 5 kilometer verder in die veld afgelaai.
In nog 'n insident het twee mans met polisieuniforms aan 'n vragmotor met sowat R270 000 se vrag by Balfour gekaap. Die vragmotorbestuurder is omstreeks 02:00 gestop op die Vereenigingpad deur twee mans met 'n Citi Golf met 'n blou lig op die dak, het Khoabane gesê.
Toe die vragmotor stilhou, het die twee mans hulle wapens op hom gerig en die bestuurder na hulle motor toe geneem, het Khoabane gesê.
Die mans het met die vragmotor weggery en die bestuurder later in die veld afgelaai.
Polisie is besig met ondersoeke na 'n kapingsklag, het Khoabane bygevoeg.

Twee vragmotors is gekaap deur mans wat polisieuniforms aangehad het in twee aparte voorvalle, het Mpumalanga-polisie Donderdag gesê.