Voor ons o?, Naspers, die monster wat sy eie voete eet

ImageLand sonder Insig

FW het die land opgeasteriskasterisk. So sê Nina Overton-de Klerk sê haar veertienjarige seun sê ‘n ongepoetste Afrikanerseun vir hom by sy “gewone Afrikaanse staatskool.” Haar presiese woorde, wat drup van die konvensies van selfgeregverdigte Afrikaner liberalisme, is: “Daarteenoor het my veertienjarige seun (in ’n gewone Afrikaanse staatskool), onlangs beleef dat ’n mede-leerling vir hom, geaksentueer met die middelvingerteken, gesê het: ‘Gaan sê vir jou Oom (FW) hoe hy die land opgef** het.’ Gevolg deur al daai soort van beskuldigings oor hoe die land aan swart mense oorgegee is, ensovoorts.”

Ons word met hierdie gruwelstaaltjie bedien in Ta’ Nina se geveinsde, aanstellerige rubriek oor die aanstellerigheid van geveinsde Afrikaners. Hierdie letterkundige aanbieding van haar sal weliswaar nie deur die gemiddelde leser onthou word teen die tyd wat hy verbygeblaai het tot by die sportblad nie, maar dit hét ‘n nut. Ons kan dit as ‘n  soort lakmoespapiertjie gebruik wat presies wys hoe kalkerig die grootste Afrikaanse koerantgroep ter wêreld die grond gemaak het waarin hy spit.

“As Afrikaners met die mond seën en in hul binneste vloek,” soos haar stukkie vir verveelde lesers opgedoen is in “By”, is een van daardie opgesmukte prekies wat so geliefd is deur Naspers-redakteurs. ‘n Mens kan dit Tippex-joernalisme noem; so onbenullig en onopvallend soos verlede maand se Lotto-nommers wat met wit ink op tikpapier geskryf is. Dit begin as ‘n pamflet teen die skynheiligheid van Afrikanersnobs en eindig as ‘n selle-ou, selle-ou brosjure vir ‘n politieke stelsel – Nuwe Suid-Afrikanerisme –  wat gevrek het voordat dit behoorlik uit die ideologiese broeikas kon kom. Nina se betoog is gebrekkig aan intellektuele vesel en proteïene en daar is meer te wen daarin om motreën te probeer eet as om dié rubriek te herkou. Wat dit wel demonstreer – as demonstrasie nog enigsins nodig is – is hoekom Naspers se koerantbedryf (daardie behemot wat besig is om sy eie voete te eet) se emfisemiese gehyg so roggelend word vanuit sy korporatiewe spelonk in Heerengracht 44, Kaapstad. Hierdie soort selfvoldane menings wat aangebied word in ongeërgde styl, sonder agting vir die behoorlike ontwikkeling van argumente en met karige respek vir Die Taal is cholesterol in die are van enige koerant. Die Burger, net soos die res van die Naspers-koerante, het juis nou dringend nuwe vitamines en minerale nodig. Hulle uitgewer, daardie monster wat so oorvreet is aan sukses, is merkbaar besig om van sy skubbe te verloor.

Verlede maand het daar iets met die mediamonster gebeur, op die oog af niks ingrypend nie, nie iets wat regstreeks die grond in die mediawêreld verskuif het nie en wat minder indruk op die leespubliek se bewussyn gemaak het as die kleur van Victor Matfield se mondskerm. En tog het dit die ingeligte waarnemer sy ken laat krap en sy kop laat knik asof dit iets is waarvoor hy gewag het: Die pretensieuse tydskrif, Insig, nog altyd maar net  ‘n klein, tengerige ponie in die Naspers-stal, het weens gebrek aan belangstelling gevrek. Dit is nie iets waaroor lank en roerend in walms van nostalgie oor getreur sal word nie. Die uitgewers veral, en hulle telraamjokkies in besonder, sal nie na die tydskriffie verlang nie. Insig het begin as ‘n soort van literêre vergaderplek vir verbitterdes waar iesegrimmige liberales mekaar se menings kon bewonder. Die enigste hitte in die oond was hulle verontwaardiging oor apartheid en met die afsterwe van dié politieke beleid, het Insig, van meet af nie juis vol spiere en lewenslus nie, bepaald bloedarmmoedig en traag geword. Sonder apartheid het dit niks gehad om op te teer nie. Vir die laaste paar jaar was dit as’t ware op ‘n korporatiewe hartlongmasjien, gesubsidieer deur sulke platvloerse maar ontsaglik winsgewende publikasies soos Die Huisgenoot. Die poging om Insig oor te doen as ‘n avante garde dissekteerverslag van sosiale transformasie, het uiteindelik ook misluk.

Ewe lusteloos was die nabetragting wat oor die saai lewe en onopvallende afsterwe van Insig in die blaaie en webruimtes van oorlewende Naspers publikasies gehou is. Natuurlik het die meerderheid kommentators presies geweet waar die blaam vir hierdie verlies hoort: Vierkantig voor die deur van daardie ongepoetste skobbejak, die Afrikaanse leser. Rian Malan noem hulle in ‘n aanhaling van Olive Schreiner “’n nasie van laer-middelklas-Filistyne.” “Filistyn,” soos dit hier diens doen, beteken ‘n dowwe persoon, iemand wat ‘n boek se waarde meet aan die hoeveelheid prentjies wat daarin is en wat sy lippe beweeg en sy vinger onder die woorde skuif as hy lees. Duidelik is ‘n diep, gesofistikeerde publikasie ver bo dié spul doffels se begrip.

‘n Tydskrif wat vir die Filistyne voorsiening maak is soos “gangreen of frostbite,” fulmineer Antjie Krog, jou werklikwaar nog dikvellig onder die indruk dat daar wraggies nog so ‘n frats bestaan soos iemand wat ‘n ingeduikte Coke-proppie omgee vir haar menings. Haar definisie van Filistynisme is enige iets wat keel skoonmaak in die omgewing van haar verbitterde liberalisme. “Sedert alles wat Afrikaans-links en konfronterend was deur Afrikaner-apatie doodgedruk is,” teem sy, “moet ‘n mens naweke deur bladsye kaf waad van gay-wees-is-sonde en die-Bybel-is-‘n-wetenskaplike-handboek om iets van gehalte in Afrikaans te lese te kry.”

Gehalte Afrikaans is, dus ‘n onhaalbare ideaal indien dit enigsins verskil met die Lewe Volgens Antjie Krog. Wel, Insig het nie. Dit het omtrent letters deur die omslag gelek so vol was dit van die uitgediende, muwwe, ontblote en uitgelagte idees van Krog en haar kader mantramompelaars. Maar, nie net was Insig se blare te hoog vir die Afrikaanse renosters om by te kom nie, hierdie Afrikaanse tydskrif het boonop die liberale uitgewersonde begaan om te maak asof die Afrikaner bestaan. Sê wie? Ag, kom aan… julle weet… wie anders as ons eie joernalistieke dorpsidioot, Max du Preez? As gevolg daarvan het hy – nè, julle wou mos – twee uit elke drie uitgawes van Insig geboikot, en – vatso! –  hoe kan enige publikasie só ‘n terugslag oorlewe? “(Daar was altyd te veel van ‘n fokus op ‘Afrikanersake’ na my smaak,)” skryf Du Preez op sy selfveragtende beste.

Nadat hierdie vername taalkundige erken dat hy “nie so mooi” weet wat ‘n wetenskapstaal is nie, pleit hy vir ‘n nuwe intellektuele Afrikaanse publikasie sodat ons kan voorkom dat “Afrikaans net ‘n huistaal en ‘n skindertaal en ‘n rugbytaal en ‘n gekerm-oor-minderheidsregte-taal word…” So ‘n tydskrif, droom hy hardop, moet “’n rouheid, ‘n vreesloosheid, ‘n verrassendheid, ‘n varsheid, ‘n onvoorspelbaarheid” hê. Wat hy duidelik in gedagte het, is die inhoud op PRAAG se webblad.

Hierdie nuwe, mitiese tydskrif, hierdie joernalistieke reënboogpot goud is iets waaroor die liberales aanhoudend mymer. Daar moet iets nuut wees, beduie hulle vir mekaar; vol vars idees, vertel hulle aanhoudend sonder om te erken dat so ‘n publikasie dan iets sal bevat wat net so min as ‘n tydmasjien kan bestaan: ‘n Vars liberale idee.

Vra jy dat hulle moet uitwei oor so ‘n tydskrif, rol die hoepelsinne. (Vir ‘n bondige beskrywing oor hoepels en hoepelsinne, kyk na “Max du Preez se hoepelsin” op PRAAG se webblad.) Dié nuwe tydskrif moet-vreesloos-wees-moet-polities-korrek-wees, dit moet-eerlik-wees-moet-nie-die-waarheid-praat-nie, moet-nuut-wees-mag-net-ou-stof-hersirkuleer, moet-verdraag-saam-wees-mag-nie-Afrikaners-verdra-nie… Dit moet genadiglik gereinig wees van alle logika, moet gesteriliseer wees van enige verwysings na enige Afrikaner-voortreflikhede, moet gesuiwer wees van enige simpatie met daardie verfoeilike minderhede wat hulleself aanmatig deur hulle te verbeel hulle het regte.

Wat hulle nalaat om vir mekaar te verduidelik is dat dié tydskrif ook nooit onafhanklik sal kan asemhaal sonder om weg te kwyn nie. Dit sal net so ‘n sawwe mislukking soos wyle onbetreurde Insig wees en vir dieselfde rede: Die redaksie se algehele, halsstarrige onsensitiwiteit vir hulle gehoor se emosionele klimaat, frustrasies en  ideale. Duidelik is hulle onbewus daarvan dat ‘n tydskrif ook maar net ‘n produk is, dat die langlewendheid van ‘n produk afhanklik is van die gehalte daarvan en dat die eerste reël van gehaltebeheer is om seker te maak wat dit is wat jou kliënt wil hê.

Miskien sou Naspers dringende aandag aan sy benadering gegee het as dit nie Insig was wat gesink het nie maar ‘n meer omvangryke publikasie soos, sê nou maar, Die Huisgenoot. Dan was daar ‘n verlies in die enigste werklike sin – meetbaar in Rand en sent. Daar sou ‘n geween en ‘n gerouklaag in die raadsale van Naspers gewees het. Soos dit is, het Insig maar ‘n klein geluidjie by afsterwe gemaak, en tog was dit ‘n onheilspellende klank, iets soos die gedempte knal van ‘n buikplank wat onder die waterlyn van ‘n groot skip op die oseaan losspring. Dit behoort suur te drup in die maagholte van ‘n ingeligte Naspersamptenaar. Insig mag miskien ‘n klein plankie gewees het maar dit is van dieselfde hout gemaak en is met dieselfde houtnaels geheg as die res van die skip. Dieselfde tekorte wat Insig laat wegkwyn het, is in elke ander Afrikaanse publikasie van Naspers ingeënt. Insig moes eintlik die langste geleef het want dit is ‘n liberale tydskrif vir liberale mense terwyl Rapport, Die Beeld en Die Volksblad liberale leesstof is vir konserwatiewe mense. Dit behoort die Antjie Krog/Max du Preez kaders se monde droog te laat.

Maar die liberalis het ‘n tradisionele onvermoë om enige iets sinvol te lees al is dit die skrif teen die muur. So “gis” Irna van Zyl, wat die professionele swartmerkie verdien dat sy eens Insig se redakteur en uitgewer was, dat die heersende Naspers wysheid is dat intellektuele behoeftes deur bylaes in koerante gedien word, soos Perspektief in Rapport en… By… in Die Burger.

En wat By ons in Die Burger gee, geagte en minder geagte lesers, is: Nina Overton-de Klerk.

In die land van die kaalkopopfopper

Al die swakhede van Naspers-styl Tippex-joernalisme is ingebind in Nina Overton-de Klerk se aanbieding, vir ons verheldering, van die woord “opgeasteriskasterisk” en haar opgesmukte verslag van die voorval waarin dit gebruik is. Dit is hoe sy die woord skryf: “… opgef**…” Wat irriteer is die inherente oneerlikheid van haar spellingkeuse. Kyk, ons wéét die veertienjarige aktivis het nie die uitdrukking “opgeasteriskasterisk” teenoor haar spruit gebruik nie. (Hy is in ‘n Nuwe Suid-Afrikaanse staatskool so dit is te betwyfel of hy weet wat ‘n asterisk is.) Ons almal weet presies wat dit is wat hy gesê het. Maar in egte Naspers-preutsheid word die krasheid van die waarheid verdoesel, in dié geval deur die gebruik van leestekens. Hier is ‘n fundamentele tegniese luiheid ter sprake. Die probleem – om die klein skobbejak se agtertangse karakter te ontbloot sonder dat Nina haar sawwe letterkundige handjies besmeer – verdien darem ‘n minuut van die skryfster se oorweging. Die leser is dit werd, sou ‘n mens dink.  As dit goed genoeg is vir Nina Overton-de Klerk om ons in te lig dat ‘n seun ‘n kras uitdrukking teenoor haar seun gebruik het, sonder dat sy vir ons die presiese woord hoef op te dis, laat Nina Overton-de Klerk ‘n manier bedink om dit so aan haar lesers oor te dra.

“Hierdie klein skermunkel,” kan sy skryf, “het in skeltaal vir my seun gesê hy moet vir sy Oom FW gaan kritiseer oor die algehele verval van die land as gevolg van sy ruggraatlose oorhandiging van mag aan die ANC.” Daar’s hy. Dit was nie moeilik nie en die sin is genadiglik vry van die onooglike selfsensuur van die asterisk.

Maar dit is nie goed genoeg vir Overton-de Klerk nie. Sy wil die kru uitdrukking voor ons oë hê om ons te oortuig van haar verbondenheid tot proletariese wortels. Nie net is sy ‘n verhewe liberalis wat ons begunstig met haar epistel uit die heuweltoppe van linkse Afrikanerdom nie, sy dra ook die kentekens van iemand wat bereid is om neer te daal om tussen die prole te wandel. “Daarom,” skryf sy in haar sub-teks, “kan julle my vertrou. Ek weet wie julle is en wat julle nodig het want ek…ken die f-woord.” Maar sy is nie bereid om daarvoor te betaal deur die woord uit te skryf nie. Sy los dit aan die leser oor om sy eie gedagteland te besoedel met die innerlike verklanking van die woord.

Dit is presies wat sal gebeur. Letters is simbole wat gebruik word om sekere klanke te verteenwoordig. ‘n Asterisk is nie ‘n letter nie en stel nie ‘n klank voor nie. Die aanwending daarvan in ‘n woord stel ‘n raaisel daar; nie enigsins ‘n ingewikkelde raaisel nie maar die verstand dring tog onwillekeurig daarop aan om dit op te los. Hierdie oplossing is ‘n suksesvolle mnemoniese werktuig en so word die oorspronklike woord net nog fermer in die bewussyn gevestig. Soos gewoonlik word die gewone burgers gelos om die selfvoldane liberalis se gemors te absorbeer. Nina Overton-de Klerk wil gewaagd maar nie waaghalsig wees nie. Sy wil in die openbaar p**p (en ons leen hierdie woord uit haar leksikon) maar wil nie hê ander moet dit ruik nie.

Sy wil haarself vrywaar met die argument dat daar soveel ander woorde saamgestel kan word uit haar konstruksie, dat dit nie te sê is dat sy enige gruwelwoord in gedagte gehad het nie. Miskien sal ons dink die seun het gesê “opgefyt,” “opgefim” “opgefus” of  “opgefez”? Nou maar goed. Kom ons akkommodeer maar Overton-de Klerk se skynheiligheid en kies vir ons twee letters – maar net nie “O” en “K” in daardie volgorde nie – om haar woord uit te lê. Ek persoonlik sal die aanstootlike “K” nie aanwend nie. Dit word te maklik gebruik om ‘n bruin woord, “k*k” te vorm, of, nog baie erger in Naspers se oë, die swart woord, “k*ffer”. So, geen “K” vir my nie maar ek hou van die “O”. En, ag nou ja, gee dan vir my ‘n “P”. Daar het ons dit: “Opgefop.” En dit is passend.

FW het, in die volle sin van die woord, ons goeie ou Suid-Afrika, daardie land wat so “wonderskoon” was soos Hanru Niemand sielvol sing, properlies opgefop.

Hy het dit opgefop met sy foppen plakkate wat “eie skole, eie woongebiede” in sy verkiesingsveldtog van 1989 waarborg. En watter fopop was sy referendum nie toe hy die Afrikaner so ver gekry het om homself op te fop deur “ja” te stem nie. En toe fop FW voort met die onderhandelinge en fop sy volk deur die ore deur nooit, soos hy belowe het, vir hulle die kans te gee om sy foppen oorgawe te ratifiseer nie. En daardie regering van nasionale foppen eenheid, dié was nou eers vir jou ‘n foppen klug. Toe fopof FW mos daaruit en los ons om rond te fop in die gemors. As daar Afrikaners is wat hom nou wil opfop verstaan ek dit. En as daardie knaap by die “tipiese Afrikaanse staatskool” sy foppen middelvinger vir Nina se seun se oom wys, moet ons seker begrip hê vir hom.

Ek wens Overton-de Klerk wil vir ons vertel wie dié jong man is. Ek beskou hou as skrander en met baie meer politieke insig as sy maatjie se ma met die dubbeldoor van. En ek stem saam met hom; foppen al die pad. Die land is opgefop. Dis nie net ek en hy wat so dink nie. Deesdae is die Groot Fopper homself, FW foppen de Klerk, self “besorgd” oor die land, oor regstellende aksie en landbou en só aan. Dis nou nie juis ‘n noodgil in die nag nie maar, fop’it alles, dis die naaste wat hy ooit aan ‘n erkenning dat hy opgefop het sal kom.     

As hierdie besef sy “kale ou kop”, soos Eugene Terreblanche dit noem, binnegedring het, is FW die enigste van hierdie De Klerks wat die lig gesien het. Skoonsus Nina is, in egte Naspers-styl, vasbeslote om blind te bly vir die werklikhede van die Nuwe Suid-Afrika en, met ‘n geïrriteerde gefladder van haar pen, maak sy  die desperate krete oor die groeiende nasionale katastrofes af as “daai soort van beskuldigings.”  Blykbaar is sy erg koud gelaat deur die nasionale paaienetwerk wat verkrummel, elektriese toevoer wat elke dag meer wisselvallig word en munisipale dienslewering wat nou net in ‘n vlaag van nostalgie onthou  kan word. Onderwysstelsel waarvan die hoofproduk ‘n verwarde, verbitterde en ongeletterde geslag kinders sonder vaardighede en hoop is? Suiwer piffel. Diefstal, kapings, moorde en willekeurige verkragtings? Dis maar net “daai soort van ding”, my dier. Nina Overton-de Klerk kan nie daardeur geroer word nie, nie terwyl sy erns maak van ‘n veel gewigtiger onderwerp nie: Die skynheiligheid van sommige Afrikaners.

Haar sentrale betoog – dat daar liberale Afrikaners is wat lippediens doen teenoor die Nuwe Suid-Afrika terwyl hulle dit eintlik in hulle harte verpes – is so alledaags dat ‘n blok blanke papier in die koerant dit ewe goed kon gestaaf het sonder om soos Overton-de Klerk vir die trotse Afrikaanse leser aanstoot te gee. Al was hier nie menings oor homoseksuele mense en verwysings na die Bybel nie, sou Antjie Krog verniet hierin gesoek het na “gehalte Afrikaans.”  Nina Overton-de Klerk, “kommunikasiekonsultant” wat sy nogal is, is ‘n lustelose en onbeholpe skrywer met karige eerbied vir taalreëls en geen aanvoeling vir die inherente ritmes en uitdrukkingsrykdom ons Taal nie. By haar kry ons geen deernis vir Afrikaans nie.

Ek, net soos haar spruit kom uit ‘n “gewone Afrikaanse staatskool” en daar was niks fatsoenlik aan Hoërskool Stoffberg in Brakpan nie. Maar selfs daar het ons geleer dat die standaardsin ‘n onderwerp, werkwoord en voorwerp bevat. Hierdie is basiese elemente van taalgebruik en, as jy enigsins respek vir jou taal het, sal jy dit in gedagte hou wanneer jy skryf. Baie skrywers, ter wille van klem of vir effek, verontagsaam soms hierdie reël. Soos ek in hierdie sin. Ek glo dat geen skrywer met enige respek vir sy ambag hierdie foefie sonder deeglike oorweging sal aanwend nie. Nina Overton-de Klerk, daarenteen, het skynbaar so ‘n lae dunk van haar lesers en voel haarself so verhewe bo enige taalkundige konvensies dat sy hierdie reël in bykans twintig persent van haar sinne breek. Dit is maar net slordige skryfwerk en behoort nie die sensuur van ‘n hoërskoolonderwyseres, wat nog te praat van ‘n subredakteur, te ontduik nie.

Hierdie gehawende skryfstyl vol galsterige menings en met clichés wat flap in die wind is, helaas, nie ‘n afwyking van Naspers se redaksionele beleid nie. Hier geld ‘n ander basiese impulse as ‘n aandrang op gehalte. Die subredakteurs en bladontwerpers is gedienstige meelopers. Die opskrif vir Overton-de Klerk se storie is: “As Afrikaners met die mond seën en in hul binneste vloek.” Opskrifte is die subredaksie se verantwoordelikheid. Selfs al sou die skryfster ‘n titel vir haar storie voorstel, het sy nie die bevoegdheid om te verseker dat dit gebruik sal word nie. Opvallend genoeg gaan haar storie oor sommige Afrikaners, eintlik ‘n piepklein groepie, maar in die hande van die subredaksie is dit alle Afrikaners wat by geleentheid so huigel. Miskien is dit nou maar weer net die tipiese agterlosigheid van vandag se Afrikaanse pers maar ek sou dink dit is eerder ‘n Freudiaanse glipsie wat vir ons wys wat Naspers se redaksionele hart van vol is.

Dit is ‘n arrogante hart, oorgerus in die kennis dat dit binne ‘n onaantasbare behemot klop. Onaantasbaar? Dit is so dat Naspers nie soseer die grootste vis in ‘n klein poeletjie is as die enigste seekat in ‘n koffieblik nie. Daar is geen noemenswaardige teenstaanders om dié mediareus se posisie te bedreig nie. Maar uit hierdie situasie kom ‘n sekere ongeërgdheid oor sy lesers se behoeftes. Die maatskappy maak die onverantwoordelike aanname dat wat goed is vir Naspers, goed is vir die land. In plaas daarvan om te vra wat sy lesers se ware opvattings en behoeftes is, neem Naspers dit op homself om vir hulle te besluit. Sy aanbod aan hulle is: Dé, lees dit of los dit. Daarom is dit onvermydelik dat, sodra enige alternatiewe aanbod ontstaan, die lesers toenemend gaan kies om Naspers te los.

Dit is ‘n algemene bemarkingswysheid dat ‘n hardewarewinkel nie 8mm-bore verkoop nie maar 8-mm gate. Die leser koop ‘n koerant en ‘n tydskrif nie bloot om ingelig of vermaak te word nie maar vir bevestiging van wie hy is. Maar Naspers se uitgewers neem dit nou al heeltemal te lank op hulleself om vir die Afrikaner te besluit nie net wat hy mág nie, maar wat hy wíl lees. En elke uitgawe van elke Naspers-koerant en –tydskrif bombardeer die Afrikaner met beelde en menings wat steurend met die volk se herkoms, opvattings en waarnemings is.

Die Huisgenoot, byvoorbeeld, wat van ‘n betroubare, soliede Nasionale Pers-gesinstydskrif na ‘n smerige Napers- skinderblad gemorfeer het, voer ‘n onsubtiele veldtog om die ideologie van veelrassigheid aan die Afrikaner te verkoop. Of dit nou gemengde paartjies op die voorblad is of die aanwysing van Brian Lara as die “seksiesste krieketspeler van die Wêreldbekertoernooi,” die grondfilosofie is dat daar géén verskil tussen rasse is nie en as Lara se “kom-hierso” ogies dit nie vir jou doen nie, is jy ‘n verfoeilike rassis. Hier is nuus wat Naspers in hulle eie koerante kans skryf: By verre die meerderheid lesers van Die Huisgenoot wil nie lees dat Brian Lara die seksiesste krieketspeler op aarde is nie. Dis miskien nie polities korrek nie, maar hulle dink ‘n goeie, vars, blanke jongman, AB de Villiers byvoorbeeld, is baie aantrekliker. En, ja, hulle dink so juis omdat hulle wit is en hý wit is. Vandag se wetenskap bewys wat ons almal nog altyd instinktief geweet het: Die ras waarin jy grootword vorm die maatstawwe wat jy aan fisiese skoonheid stel. Dit was altyd so en so sal dit altyd wees. Net Die Huisgenoot en sy makers het dit blykbaar nog nie gehoor nie.

Alle Afrikaanse Naspers-publikasies is besig om in gehalte en getalle te kwyn. Maar in die monster se grootheidswaan, en omdat hy nie noemenswaardige teenstaanders het nie, ignoreer hy die tekens. Hoogmoed kom voor ‘n val en geen maatskappy in Suid-Afrika is meer selfvoldaan as Naspers nie.

Niemand hoef vir die mediamonster voor te lig wat om te doen om homself te vernietig nie. Hy doen dit vanself.

‘n Miljoen voete, met slaai en ekstra kaas

Tom Wolfe, die weergalose betragter en woordskilder van die Amerikaanse sosiale landskap, het New York, die stad, in een van die mees invloedryke opstelle oor die Nuwe Joernalistiek as ‘n “miljardvoetige ondier” beskryf. Ons is van geaardheid meer bedeesd en sal daarom net ‘n miljoen voete aan Naspers toeken.

Hierdie miljoenvoetige monster van ons is ‘n indrukwekkende verskynsel want nie net het hy die ontsaglike massa van ‘n dinosourus nie maar ook die aanpasbaarheid van ‘n knaagdier en die gedyvermoë van ‘n kakkerlak. En tog, hierdie kolos, baie soos ‘n seekoei wat ballet, sukkel toenemend om fyntjies te trap.

Sy sukses en oorlewing weerskante van ‘n nasionale politieke rewolusie was ‘n peillose besigheidsprestasie. Deur skrander bestuur, met ‘n sekere waaghalsigheid en met onweerstaanbare beslistheid het dié mediamaatskappy homself losgewoel van sy herkoms. Dié sou hom skynbaar onvermydelik onder die oppervlakte gesleep het, reg die maalkolk in wat ontstaan het met die wegsinking van Afrikaner-heerskappy. Naspers het daarin geslaag om homself te herontwerp maar, baie soos ‘n mens wat net een keer van geslag kan verander, gaan hierdie mediamonster uitvind dat sy identiteit nou finaal ingemessel is in die huidige politieke bestel en dat sy voortbestaan onlosmaaklik verbind is met die lot van die Nuwe Suid-Afrika. As veelrassige politiek in Suid-Afrika misluk, sal Naspers swaar gekwes word.

 So lank as wat Groot Besigheid ‘n werkbare verhouding, hoe ongemaklik ook al, met ‘n swart meerderheidsregering het, kan Naspers vanuit hierdie skans funksioneer om internasionaal sy ryk te vestig en te onderhou. Maar daar is ‘n natuurlike teenstaander van die Nuwe Suid-Afrika en die spanning tussen ‘n rassistiese, onderdrukkende regering en hierdie opponent kan Naspers se transaksie met die spreekwoordelike duiwel befoeter. Hierdie speek in die wiel is, ironies genoeg, die Afrikaner en Naspers het juis uit die Afrikaner gekom om die Afrikaner te dien. Naspers loop op Afrikaner-voete maar dit is die Afrikaner se herontdekking van sy volksidentiteit en –trots wat Naspers se invloed en posisie moet bedreig. ‘n Sielsgesonde Afrikaner sal noodwendig met Naspers se belange bots. Om in sy huidige florerende inkarnasie te oorleef, het die monster geen keuse nie: Hy moet toesien dat die Afrikaner verdeeld, verward en onderdruk bly. Die monster moet sy eie voete eet.

Dit was nie so lank gelede nie wat die hele Naspers ––  toe nog Nasionale Pers ––  voete, geraamte, buik, kop en arms, die ganse dier, uit die Afrikaner bestaan het. Die maatskappy is in die twintigerjare gestig met die tiekies en halfkrone van die Afrikanervolk wat toe nog gehawend en uitgeteer was na die verskrikking van die Tweede Vryheidsoorlog. Die mediamaatskappy het sterk en gesond gegroei in pas met die Afrikaner se herrysenis en met sy konsolidering van die politieke mag. Nasionale Pers het ‘n deurslaggewende aandeel gehad in die vestiging van Afrikaans as ‘n sterk, dinamiese taal. Hierdie was ‘n volksmaatskappy in die beste sin van die woord.

In 1948, met D.F. Malan se verkiesingstriomf, het Nasionale Pers se lojaliteit in klem verskuif van volk na politieke party. Hierdie verbintenis tussen Nasionale Pers en Nasionale Party was heen-en-weer ‘n voordelige een. Pers het die volk gekondisioneer vir die Party se politieke maneuvers en met die Party se guns kon die mediamaatskappy uitbrei deur die totstandbringing en oorname van ‘n gesonde stal koerante, tydskrifte en boekuitgewers. Wanneer daar gesê word dat, in die era tussen Malan en De Klerk, die aarts-Afrikaner Nasionale Party gestem het, in die N.G. Kerk gebid het en by Volkskas gebank het, moet bygevoeg word dat hy Nasionale Pers gelees het. Die Nasionale Party het die volk gelei en Nasionale Pers het die volk gedien.

In die tagtigerjare, egter, het die dienaar godsdienstig geword toe hy die groot geldgod ontdek het. Die Mammonsprofeet wat sekerlik die nuwe evangelie met die grootste fanatiesisme aan Nasionale Pers gebring het, was ‘n jong regsgeleerde wat homself nie tuis gevoel het in die regsbedryf nie. Die storieskrywer kan beswaarlik ‘n beter fiktiewe karakter saamstel as wat Koos Bekker in die werklike lewe is. Hy is deels internasionale, merkantiele held en deels volksrampokker. Hy is ‘n vaardige onderhandelaar, ‘n sterk leier en het die ekonomies hoog aangeslaande vermoë om patrone in die mark te sien en die vermoë om sy visies te laat materialiseer, die soort wat eerder vra “hoekom nie?” as “hoekom?”

Ontgogel deur die regsberoep, het die jong Bekker afgesit Amerika toe ter wille van ‘n MBA by Columbia Universiteit in New York. Satelliettelevisie was aan die posvat in die VSA en hy het met die oë gesteel en homself deeglik ingegrawe in die nuwe tegnologie. Bekker en twee Afrikaanse makkers het die stang vas gebyt en ewe kordaat opgemarsjeer na Ton Vosloo, toe aan die hoof van Naspers, om hom te oortuig om hulle te ondersteun om betaaltelevisie te loods in Suid-Afrika. Uit hierdie dramatiese ontmoeting sou MNET gebore word. Dit het ‘n hele verskuiwing van die tektoniese plate binne Naspers veroorsaak. Die volksgerigte uitgewersmaatskappy het ‘n internasionale mediaswaargewig geword met indrukwekkende belange in satelliet-TV, selfoonnetwerke en elektroniese mediaplatforms.

Hierdie oorgang het saamgeval met ‘n ander, en nog groter, verskuiwing – die nasionale een van ‘n apartheidsbewind na meerderheidsoorheersing. Dit was ‘n onsekere tyd en het fyn ewewig en ratse voetwerk geverg. Indien daar enigsins ‘n debat binne die raadsale van Naspers was, het die Mammoniste die nasionaliste getroef. Die maatskappy sou gedien word, ongeag van die omvang van die offer. Naspers kon weer daarin slaag om hulle lojaliteite te verplaas, dié keer van die kwynende Nasionale Party af na die Nuwe Suid-Afrika. Die grootste potensiële bedreiging vir die reënboognasie is ‘n sterk blok Afrikaners met eie aspirasies en wat aandring op hulle regte. Vir die voortbestaan van die Nuwe Suid-Afrika en derhalwe vir die oorlewing van die maatskappy, moes Naspers ‘n besluit neem wat moontlik bitter, maar beslis drasties, was: Die Afrikaner moes verdwyn, absoluut net verdwyn.

Die Volk wat nie wou saamwerk nie

Naspers het, soos Frankenstein se monster, venynig omgeswaai om sy maker te verslind. Die maatskappy wat deur die Afrikaner met soveel sorg en trou gebou is, het nou die ywerigste advokaat geword vir die aftakeling van die volk. Deur hulle meningsveldtogte en propaganda te ontleed, kan die Naspers-strateë se Endlösung vir die Afrikaner vasgestel word. Dit is vervat in vier stappe:

Eers Abdikasie, dan Transformasie, daarna Integrasie en, uiteindelik, Annihilasie.

Die aanvanklike stap was ‘n maklike een, gechoreografeer deur FW de Klerk en Roelf Meyer se papperige oorgawe in Kempton Park. Naspers het nie geleentheid gehad om te wys hoe manhaftig hulle die Afrikaner kan rangeer om nasionale sepoekoe te pleeg nie. Maar die tweede fase in die genadedood van die Afrikaner het Naspers met entoesiasme op homself geneem. In elke uitgawe van Rapport, die drie susterskoerante (Beeld, Die Burger en Die Volksblad) en elke week in Die Huisgenoot en in elke ander tydskrif, het Naspers redakteurs, verslaggewers en rubriekskrywers die Afrikaner oortuig om ter wille van die utopiese transformasie van die land, homself te verag.

Die handleiding vir hierdie aanslag is uit die werk en filosofie van ‘n obskure Italiaanse kommunis, Antonio Gramsci, geknip. Nadat hy tot sy ontnugtering deur Benito Mussolini opgetronk is, het Gramsci probeer ontleed hoekom die verwagte Marxistiese rewolusie so ‘n patetiese flop in Italië was. Sy insig was dat ‘n kommunisme  nie ‘n Westerse land deur geweld kan oorrompel nie. Daarvoor is die Weste te bedrewe in die verfoeilike kunste van geld- en oorlogmaak. Gramsci se voorstel was dat so ‘n land tog kan val deur die leefwêreld van die inwoners daarvan – hulle kultuur – die teiken van ‘n strawwe maar subtiele en deurlopende veldtog te maak.

Naspers het dit op hulleself geneem om die Afrikaner as’t ware te gramsci. Die volk is bykans onvernietigbaar deur eksterne aanvalle, maar as sy geskiedenis, tradisies, prestasies en gemeenskapslewe aangeval word en intellektuele molekule vir intellektuele molekule weggekalwe word, sal die Afrikaner homself uiteindelik van binne af vernietig. Naspers, met sulke gewillige bondgenote soos die nuwe SAUK en die land se onderwysstelsel, het met die grootste en geduldigste beslistheid aan die werk gespring.  Die Afrikaner, prewel Naspers se publikasies soos ‘n duiweltjie op die volk se skouer, is, met die moontlike uitsondering van die Nazi’s, die grootste monsters wat nog ooit uit die geledere van homo sapiens gekom het. Die Afrikaner sal nooit kan vergoed vir drie eeue se onreg teen die saggeaarde, mensliewende swart ras van Afrika nie en daarom is die minste wat hy kan doen om te verdwyn. Die huidige slagting onder veral die boere is die Afrikaner se verdiende loën en hy moet dit sonder teëspraak verduur. Daar is niks beredderingswaardig  aan die Afrikaner nie; nie sy taal, sy geskiedenis, sy letterkunde, sy kerk, sy eertydse militêre trots nie. Niks. En hy moet homself net voortdurend begenadig ag dat hy nog voete op die land het in dieselfde tyd as sulke barmhartige halfgode soos Mandela, Tutu, Mbeki…

Hierdie filosofie is onverdedigbaar in die lig van gesonde verstand en tog het Naspers se poging om die onverkoopbare aan die Afrikaner te verkwansel ontstellend na aan algehele sukses gekom. Agtien maande gelede het kommentators nog gesmaal dat die “Afrikaner stoom verloor het,” en het hulle gegrinnik oor die stomheid waarmee die volk voor die skeerder saamgedrom het. Maar  uiteindelik het hierdie poging gefaal: Dit is inherent vals en het nie geresoneer met die waarheid in die gesamentlike hart van die Afrikaner nie. Die Afrikaner wéét wie en wát hy is: ‘n Taai, skrander, vredeliewende, wetsgehoorsame, gelowige en deernisvolle volk wat nog altyd net die ruimte en geleentheid wou hê om homself te regeer sodat hy sterk en vooruitstrewend kan word en in die posisie sou wees om die swakkere volke om hom te help. Naspers se bombardement onwaarhede het soos metaangas onder die volk se kors opgebou en uiteindelik was dit ‘n oënskynlike onskuldige verskynsel wat deur hierdie laag geboor en suurstof en ‘n vlammetjie by die gas gevoeg het. Dit was ‘n sagte-rock liedjie oor ‘n afgestorwe generaal en ‘n volk se pleidooi aan hom. Vlamme, rook, magma, verskroeiing. Naspers ontken dit nog, maar hulle het die stryd om die volk se hart verloor.

Die enigste rede hoekom Naspers nog hoegenaamd suksesvol is om enige leesstof onder die volk te versprei, is die stelling wat hy ingeneem het teen die ANK. Naspers het homself haarfyn geposisioneer as ‘n Nuwe Suid-Afrika voorsanger eerder as om homself te verbind tot die heersende politieke party. Dit gee vir redakteurs soos Jonathan Crowther, Tim du Plessis en Henry Jeffreys die geleentheid om hulle duime te byt in die rigting van die rassistiese Mbeki-regime sonder dat hulle die Afrikaner enige bestaansreg gun. Dit is net hierdie venyn teenoor die ANC wat vir die Afrikaanse Naspers-publikasies nog enigsins geloofwaardigheid in die volk se oë gee. Maar hierdie sorgvuldig ingerigte posisie het ‘n prys: Dit is ‘n statiese een. Koerante en tydskrifte gedy op vernuwing maar met die Bresjneff-tipe stagnering waarin die Nuwe Suid-Afrika vasgeval het, kan daar niks nuuts in Naspers se lyfblaaie wees nie. In Suid-Afrika is net een van twee politieke modelle beskikbaar: Multi-kulturalisme of  selfbeskikking. Naspers het sy wa gehaak aan die multi-kulti trekker en die onvermydelike mislukking van veelrassigheid gaan ongetwyfeld ‘n einde bring aan Naspers se greep op die Afrikaner se siel.

Naspers, die judasbok wat die Afrikaner deur die slagproses van Abdikasie en Transformasie begelei het, gaan nou tot sy afgryse sien hoe die slagskaap vassteek by die derde stap, Integrasie. Die Afrikaner begin nou toenemend weer besef wie en wat hy werklik is. Wanneer daardie kennis sterk genoeg in die volksbewussyn is, gaan die Afrikaner omdraai en dan ook die eerste twee stappe, Transformasie en Abdikasie, omkeer. Die Afrikaner sal weer die meester van sy eie land en volk en die kaptein van sy eie lot wees. En waar sy lot afwyk van Naspers s’n, is dit die mediamonster wat onafwendbaar sal moet verval.

Selde was so ‘n groot mediagroep so kwesbaar deur klein mededingers soos wat Naspers vandag is. Twee jaar gelede het ‘n onafhanklike groep redakteurs en verslaggewers die eerste Afrikaanse Sondagkoerant, Die Wêreld, uit die niet tot stand gebring en, met ‘n meer gefokusde redaksionele beleid en noukeuriger beplanning, kon hulle Die Rapport erg gekwes het. Soos wat dit was, moes Naspers, volgens agter-die-hand stories in die mediawêreld, van bedenklike tegnieke gebruik maak om die nuwe japsnoet te pootjie. Hierdie koerant was ‘n kordaat poging om Naspers te takel waar die mediamonster nie net ‘n ontsaglike gewigsvoordeel gehad het nie  maar ook die omgewing van die stryd kon beheer.

Daar is wel een publikasiepyp wat Naspers nie verstop kan kry nie: Die internet. Daarop gedy klein, onafhanklike verspreiders van inligting en kommentaar. PRAAG is die vernaamste van hierdie uitdagers. PRAAG het ‘n indrukwekkende getal besoekers op die webwerf. Tans steek dit nog af teen die enorme hoeveelheid Naspers-lesers, maar PRAAG het twee dinge wat Naspers nooit weer sal hê nie: ‘n Groeiende leserstal en die instinktiewe ondersteuning van ‘n herrysende Afrikanervolk.  

PRAAG is uitstekend geposisioneer om die sprong van elektrone na ink te maak, van kwartaalblad en boeke na tydskrif, weekblad, dagblad… wie kan sê… en Naspers het die volk moerig genoeg gemaak sodat ‘n nuwe aanbod, een wat praat soos wat die volk voel, onherstelbare krake in die monster se pantser sal slaan.

Naspers het nog nie hierdie nuus gekry nie. Vir hulle is dit besigheid soos altyd, met die klem op “besigheid.” Hulle koerante en tydskrifte kan nie iets rewolusionêr of nuut ondersteun nie. Daarom vloei die wit ink in liters en liters Tippex-joernalisme. Meningskrywers word nou juis gekies vanweë die sufheid van hulle denke en die kortsig van hulle waarnemings. Die enigste vereiste om ‘n rubriek vir Naspers te hanteer, is dat die skrywer se verstand nie vertroebel sal wees deur enige vurigheid, forsheid of verfrissendheid nie. “Onbehoorlike denke,” soos deur George Orwell voorgeskryf as die enigste teengif teen die oormagtige aanslag van totalitarisme, word nie by Naspers geduld nie. Daarom vul hulle voortdurend hulle span rubriekskrywers aan met sulke onbeduidende persoonlikhede soos Koos Kombuis, Max du Preez en… Nina Overton-de Klerk.

Sy vertel, met ‘n spatsel grootdoenerigheid, dat haar seun, een wit vriende en een swart vriend, die venynige kritikus van haar swaer “uitgesorteer” het. Presies hoe hulle dit gedoen het, weier sy om te sê, anders as om op te merk dat dit “genadiglik vuisloos” was.  “Einde van storie,” soos sy weereens in ‘n sin sonder ‘n werkwoord skryf.

Dit word aan ons oorgelaat om te bespiegel oor hoe hierdie jong aktivis reggesien is. Omdat haar seun ‘n De Klerk is, is dit instinktief om te glo dat die seun afgedreig, omgekoop of belieg is. Maar dit is onregverdig om Nina se seun so te belaai met die sondes van sy vaders. Daar is ‘n ander manier waarop die jong De Klerk die venyn van die ontstoke seun teenoor hom kon getrek het, ‘n benadering wat insig, kloekmoedigheid en ‘n sin vir regverdigheid, alles so jammerlik tekort in die De Klerk-familie, sou toon:

Hy kon met hom saamgestem het.

игри для детеилобановский политик