
‘n Zimbabwiese Hoërhof het uitspraak voorbehou in ‘n aansoek van die opposisieleier, Morgan Tsvangirai, om die land se verkiesingliggaam te dwing om materiaal oor verlede maand se presidensiële verkiesing bekend te maak.
Tsvangirai voer aan dat die materiaal noodsaaklike getuienis sal voorsien in sy hoof regsgeding om die presidensiële uitslae nietig te verklaar omdat dit volgens hom gemanipuleer is.
‘n Voorlopige verhoor oor dié saak vind Saterdag in die land se konstitusionele hof plaas. Tsvangirai wil hê die verkiesingskommissie moet die volle presidensiële resultate per kiesafdeling vrystel.
Die MDC eis dat inligting verskaf word oor die aantal mense wat bygestaan is om te stem, afskrifte van die kiesersrol wat by stembusse gebruik is, afskrifte van die kiesersrol wat in die spesiale verkiesing gebruik is en ‘n register van diegene wat wel hulle stemme uitgebring het. – RSG
