100 Lyke van asielsoekers spoel op kus uit

Minstens 100 lyke van vermeende asielsoekers uit Afrika suid van die Sahara het Dinsdag op ’n strand naby die kusdorp Tajoura in Libië uitgespoel.

Dit is volgens berigte moontlike die naasgrootste tragedie sedert 18 April toe 850 asielsoekers aan die kus van Libië verdrink het.

Volgens die Migrant Report, ’n webblad wat berig oor kwessies oor immigrante, is besonderhede rakende die voorval nog onduidelik.

’n Woordvoerder van Libië se departement van anti-immigrasie sê hul nasionaliteit kon nog nie bevestig word nie.

Hulle is vermoedelik die slagoffers van ’n skeepswrak langs die kus van Tajoura, ’n dorp omtrent 10 km oos van die hoofstad, Tripoli.

Die lyke is na ’n hospitaal in Tripoli vervoer.

Ten minste 1 780 asielsoekers het tot dusver in die Mediterreense See verdrink in ‘n poging om Europa te bereik.

Die lyke van 12 asielsoekers is Vrydag gevind nadat die boot waarop hulle was, aan die kus van Libië omgeslaan het.

Vroeër in die week het Turkse en Griekse kuswagte ’n soektog begin na 19 Afrikane wat vermoedelik verdrink het.