praag-webblaaie loop nou op splinternuwe apparatuur

Geagte leser,

Nadat ons tegniese span oor die naweek baie hard gewerk het, kan ons aankondig dat beide praag.co.za en praag.org nou op ‘n splinternuwe en veel kragtiger bediener gehuisves word.

Vroeg vanoggend was daar skielik ‘n probleem met die goedjies (widgets) aan die kant van en bokant die blaaie, maar mettertyd het ons na baie kopkrap vasgestel dat ons ‘n ding genaamd cURL moes installeer, wat toe gedoen is.

Die krulle het vroeg vanoggend vir geringe hartversaking gesorg, maar toe het ons hulle darem getem met 'n eenvoudige: sudo apt-get install curl
Die krulle het vroeg vanoggend vir geringe hartversaking gesorg, maar toe het ons hulle darem getem met ‘n eenvoudige: sudo apt-get install curl

Soos ons al voorheen aangedui het, sal die nuwe apparatuur ons in staat stel om ‘n internasionale rol te speel, maar ook toenemend opwindende voordele aan ons PRAAG-lede en algemene lesers te bied.

Maak seker dat u op ons nuusbrief inteken wat voortaan ook meer gereeld uitgestuur sal word om u op hoogte van al ons werksaamhede te hou.

php-curl-primenenieVertel gerus vir ons hoe u die praag-blaaie op die nuwe masjien ervaar, of dit vinniger as voorheen is en dalk makliker aflaai. Hier in Johannesburg teen laataand as die internet vinniger loop, herlaai die blaaie so vinnig dat ‘n mens dit skaars met die blote oog kan sien. Ons vind ook dat wanneer die webblad bygewerk word, word die nuwe blad binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde opgelaai, geberg en gepubliseer.

Dus was al ons beplanning en geswoeg die moeite werd! Boonop was ons nooit gedurende die opgradeerproses van lyn af nie. Slegs een artikel wat vroeg vanoggend opgelaai is, het iewers op die ou bediener beland omdat dit seker nog ‘n weergawe van die blad bevat het wat in die kasgeheue moes vasgehaak het. Hoe dit gewerk het, was dat ons twee identiese weergawes van die blad op die ou en die nuwe bediener gehad het. Op ‘n gegewe oomblik het ons die DNS na die nuwe blad toe verwys, waarna dit binne vyf minute oorgeskakel het, sonder dat die gewone leser dit sou agterkom.

apache logsSoos 53% van die wêreld se webblaaie, loop hierdie webblad op Apache op ‘n Linux-masjien wat met die jongste weergawe van Ubuntu 14.04 (Trusty Tahr) gelaai is.

ubuntu-14-04-nombreTrouens, my getroue rekenaar waarop ek hierdie woorde skryf, gebruik ook Ubuntu Trusty Tahr as bedryfstelsel. Dus voel ek sommer goed om te weet dat sy voorbokbroer doer oorkant die water so hard werk om die meer as tien miljoen woorde op ons twee PRAAG-webblaaie aan die hele wêreld beskikbaar te stel!

Die feit dat ons Mark Shuttleworth se gratis bedryfstelsel gebruik, beteken so min of meer dat die tegnologie wat ons gebruik insgelyks eg Suid-Afrikaans is (al is ‘n tahr ‘n boksoort in die Himalajas). Dus is ons sommer reg vir die volgende keer as Apple en Microsoft Suid-Afrika begin boikot ook!

Dan Roodt
Eindredakteur