Geagte leser,
Nadat ons tegniese span oor die naweek baie hard gewerk het, kan ons aankondig dat beide praag.co.za en praag.org nou op ‘n splinternuwe en veel kragtiger bediener gehuisves word.
Vroeg vanoggend was daar skielik ‘n probleem met die goedjies (widgets) aan die kant van en bokant die blaaie, maar mettertyd het ons na baie kopkrap vasgestel dat ons ‘n ding genaamd cURL moes installeer, wat toe gedoen is.

Soos ons al voorheen aangedui het, sal die nuwe apparatuur ons in staat stel om ‘n internasionale rol te speel, maar ook toenemend opwindende voordele aan ons PRAAG-lede en algemene lesers te bied.
Maak seker dat u op ons nuusbrief inteken wat voortaan ook meer gereeld uitgestuur sal word om u op hoogte van al ons werksaamhede te hou.
Vertel gerus vir ons hoe u die praag-blaaie op die nuwe masjien ervaar, of dit vinniger as voorheen is en dalk makliker aflaai. Hier in Johannesburg teen laataand as die internet vinniger loop, herlaai die blaaie so vinnig dat ‘n mens dit skaars met die blote oog kan sien. Ons vind ook dat wanneer die webblad bygewerk word, word die nuwe blad binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde opgelaai, geberg en gepubliseer.
Dus was al ons beplanning en geswoeg die moeite werd! Boonop was ons nooit gedurende die opgradeerproses van lyn af nie. Slegs een artikel wat vroeg vanoggend opgelaai is, het iewers op die ou bediener beland omdat dit seker nog ‘n weergawe van die blad bevat het wat in die kasgeheue moes vasgehaak het. Hoe dit gewerk het, was dat ons twee identiese weergawes van die blad op die ou en die nuwe bediener gehad het. Op ‘n gegewe oomblik het ons die DNS na die nuwe blad toe verwys, waarna dit binne vyf minute oorgeskakel het, sonder dat die gewone leser dit sou agterkom.
Soos 53% van die wêreld se webblaaie, loop hierdie webblad op Apache op ‘n Linux-masjien wat met die jongste weergawe van Ubuntu 14.04 (Trusty Tahr) gelaai is.
Trouens, my getroue rekenaar waarop ek hierdie woorde skryf, gebruik ook Ubuntu Trusty Tahr as bedryfstelsel. Dus voel ek sommer goed om te weet dat sy voorbokbroer doer oorkant die water so hard werk om die meer as tien miljoen woorde op ons twee PRAAG-webblaaie aan die hele wêreld beskikbaar te stel!
Die feit dat ons Mark Shuttleworth se gratis bedryfstelsel gebruik, beteken so min of meer dat die tegnologie wat ons gebruik insgelyks eg Suid-Afrikaans is (al is ‘n tahr ‘n boksoort in die Himalajas). Dus is ons sommer reg vir die volgende keer as Apple en Microsoft Suid-Afrika begin boikot ook!
Dan Roodt
Eindredakteur

Baie geluk Dan en die Span!
Vir my lyk dit baie baie vinniger.
Juslaaik maar Nig Krulle is vinnig en nog vrek mooi.
Maar hoe kan ek ook daai Bokbedryf van Mark op my rekenaars kry want dis virus vry.
Jan, jy moet ‘n sogenaamde “laaibare geheuestokkie” maak. Daar is ‘n baie goeie programmetjie daarvoor vir Windows wat jy van die internet kan aflaai. Daarna sit jy Ubuntu daarop, druk dit in die rekenaar, skakel aan en kyk wat gebeur. Ek sal moontlik ‘n tweede artikeltjie daaroor skryf, met al die skakels daarby waar jy die programme kan aflaai.
Afhangend van watse masjien jy gaan gebruik, is dit dalk raadsaam om die ligter weergawe bekend as Lubuntu te gebruik. Dit werk ewe goed as Ubuntu, maar is net bietjie minder uitspattig wat grafika en vooraf geïnstalleerde programme betref. Hoewel, Lubuntu kom ook met al die nodige woordverwerking, Firefox en dergelike meer. Die voordeel van Lubuntu is dat dit baie spaarsamig met jou rekenaar se hulpbronne te werk gaan. So pas het ek dié masjien aangeskakel en met net Lubuntu wat loop, gebruik hy maar 260 Megagrepe se geheue, terwyl ek 8 Gig beskikbaar het. Dit laat net soveel meer waarmee ‘n mens programme kan loop of webblaaie oop kan hou. Aan die einde van die dag – letterlik, anders as wat Naas Botha sê – het ek soms 50 of 60 webblaaie op Firefox en Chrome oop en dan loop Lubuntu nog sterk.
Dan
Die Namibia mark het groot groeiende behoefte . Ek verneem dat byvoorbeeld NG predikante soheentoe beroepe kry…Daar is reeds ‘n migrasie soheentoe.
Maar wat van ‘n tegniese taalkundige rubriek – soos wat Leon op sy vak doen.Iemand wat tegniese nuwe afrikaans skryf – soos wat jy hierbo so mooi gedoen het.
Bv …..’.minder uitspattig…’ of fieterjasies ? [ ‘whistles and bells”]
Jan, hier is solank ‘n skakel oor hoe om die USB-stokkie te gebruik om Ubuntu of Lubuntu daarop te sit. As jy hom in jou rekenaar inprop kan jy Linux van hom af loop vir ‘n toets om dit bietjie uit te probeer of jy kan dit ook vanaf hom installeer:
http://www.ubuntu.com/download/desktop/create-a-usb-stick-on-windows
Ek het aanvanklik vir ‘n paar dae geen hardeskyf in my masjien gehad nie en toe sommer die hele rekenaar vanaf so ‘n USB-stokkie bedryf! Wat wys hoe lekker lig Lubuntu eintlik loop.
Dankie dr. Dan, Ek probeer soveel as moontlik mense kry om die nuus te lees op praag en naarpers te vermy. Dit help nie om die ANC se propaganda masjiene te ondersteun nie want jy hoor net die ANC waarheid en dit blyk dat daar nie veel tussen die ore by sommige koerantskrywers is nie. Weereens dankie en sterkte.
Dankie, Jaybee, dis ‘n baie goeie idee. Sulke riemtelegramadvertensie is die beste wat daar is! Ons groot probleem is dat nie genoeg mense van praag se bestaan bewus is nie; ons ervaar dit daagliks. As elkeen wat dié blad lees dit net by sy vriende en kollegas kan aanbeveel, sal ons regtig vooruitgang maak!
Ek hou net nie van die bedryfstelsel se naam nie –
ja Rooikop, sommer ‘n spul stront.
Dr Dan, hiermee my hartlike gelukwense met die gladde oorskakeling na ‘n nuwe tegnologie-platform, des te meer so aangesien ek praktiese ervaring het van alles en nog wat met so ‘n projek kan skeefloop. Om slegs die krullebol-probleem te beleef het, getuig van deeglike beplanning en voorsorg.
Ons kan gerus ons mense inlig oor die gebruik van gratis bedryfstelsels soos Ubuntu 14.04. Ek beveel altyd die LTS- (Long Term Support) weergawes aan, aangesien dit oor ‘n langer tydperk, gewoonlik 5 jaar ondersteun word en gereelde bywerkings outomaties gedoen word.
Dankie, Coen, ek waardeer jou kommentaar. Ja, toevallig is Ubuntu 14.04 so ‘n langtermynstelsel wat tot 2019 onderhou gaan word. Aan die ander kant is ek nogal erg nuuskierig oor die nuwe Utopic Unicorn wat later vandeesmaand vrygestel word, maar dit sal natuurlik net vir ‘n jaar onderhou word.
Let ook sommer op die nuwe volgknoppie vir Twitter hier bo langs die regterkant. Dis in Nederlands, want Twitter bied nog nie Afrikaans aan nie. Ons vorige knoppie het opgehou werk omdat dit nie meer met die nuwe weergawe van PHP en Apache versoenbaar was nie.
Dr Roodt, ek verstaan van bedieners en bedryfstelsels net mooi niks. Al wat ek kan sê is dat as u nuwe stelsel gaan bydra om Praag se draagwydte te vergroot en te versterk, dan verheug dit my en kan ek u net alle sterkte daarmee toewens.
Ons pas nie sensuur toe nie. Ons is egter in meerdere of mindere mate gebonde aan wetgewing in Suid-Afrika, daarom verkeer sekere woorde op die “vanglys” hier op Disqus. In die verlede was daar vele pogings om ons te kelder deur linkse groepe, dus moet ons maar bietjie versigtig wees.
Ons verloor ook nie lesers nie; ons bly so in die bondel van vergelykbare nuus- en kommentaarblaai in Afrikaans op die internet. In die wêreld is ons in die top-100 000 en in SA onder die top-500. Tans is netwerk24.com 59 000ste ter wêreld; ons is nie te ver daarvandaan nie. Vergelyk egter die hulpbronne waaroor Naspers beskik en ons s’n, dan besef jy dat ons eintlik baie goed vaar en boonop al hoe meer soekverkeer trek soos wat ons artikels vermeerder.
Ons sal nog baie meer wil doen, soos byvoorbeeld oorspronklike ondersoekende joernalistiek om allerlei gegewens oop te vlek, maar dis tydrowend en daarvoor het ons verdere finansiële ondersteuning van ons lesers nodig.
Ons kan dit oorweeg om weer die moderering hier op praag.co.za oop te stel soos dit op praag.org is, solank dit nie soos laas deur ‘n paar kwaadwilliges of dalk betaalde agente misbruik word nie.
Een manier sou kon wees dat lesers ons help om kommentaar wat onvanpas is met die “vlaggie” onder ons aandag te bring, dan kan ons dit afhaal. Ons kan dalk so ‘n eksperiment doen en kyk of dit werk.
Haha, dr Roodt, netjiese antwoord op die trol!
Geel en rooi kaarte Dok…? 😉 Kort voor lank sypel redelose Lek deur – sou Drif met Logika en Rasioneel arms druk….
Oor getalle t.o.v. ‘ nie meer gereelde lesers ‘ : Ek het vir jare Volksblad gelees en gekoop , sonder om ooit iewers kommentaar te lewer of n brief te skryf . Tans voel dit my dat ekself ook stiller op Praag is , maar dit beteken nie dat ek nie daagliks hier kom lees nie . Daar is waarskynlik n swygende groep wat nie noodwendig apaties staan nie .
Gesonde begrip…, is nie vir almal beskore nie. In kort.
Sê maar net…