Twee supermarkte geplunder

Twee voedselkettingwinkels is in Durban geplunder, oënskynlik uit protes teen hoë kospryse. Die woedende plunderaars het selfs die braaihoender en pasteie nie ontsien nie, berig Beeld.

Kaptein Khephu Ndlovu, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die SA Unemployed People’s Movement het “hulself aan verskeie kositems gehelp, blykbaar uit protes teen die hoë kospryse”.

Veiligheidswagte wat probeer keer het, is met wapens gedreig. Die winkeldeure is daarna toegemaak en klante en plunderaars is in die winkel toegesluit.

Die polisie was egter binne enkele minute op die toneel en 'n 100 mense is by ’n Shoprite Checkers-winkel en ’n Pick n Pay in hegtenis geneem.

Ndlovu het gesê 15 mans en 35 vroue is in hegtenis geneem in die Shoprite Checkers en 50 mense by die Pick n Pay in die Workshop-winkelsentrum.

Die Shoprite-groep het gesê hulle gaan die betrokkenes beslis vervolg.

Betogers het later buite Durban se sentrale polisiekantoor bymekaargekom om te eis dat die plunderaars vrygelaat word, maar is verjaag.

мульт машинкитопкарго