Kaptein Joe Wilson het gesê 'n taxibestuurder is Dinsdag geskiet ná 'n polisiejaagtog naby Delft, omtrent 'n uur nadat betoger uitmekaar gegaan het ná 'n optog teen die instelling van busse vir pendelaars.
In 'n ander voorval is 'n man en 'n vrou doodgebrand nadat 'n taxi met klippe gegooi is, waarna die taxi beheer verloor het en in 'n wendyhuis vasgery het in Heidelbergpark in die Strand.
"Die taxi het aan die brand geslaan en twee mense wat in die wendyhuis gewoon het, 'n man en vrou, was onder die taxi vasgekeer. Hulle het doodgebrand," het inspekteur Olebogeng Tawana gesê.
Twee insittendes in die taxi is lig beseer en 'n saak van strafbare manslag is geopen.
Tawana het gesê dit is onbekend hoekom die taxi met klippe gegooi is.
