Minister bevestig dat De Kock onder toesig is

Die Minister van Justisie, Mike Masutha het bevestig dat die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock uit die gevangenis vrygelaat en onder toesig van korrektiewe dienste is, het RSG berig.

Die minister wou glo op versoek van De Kock geen verdere inligting verstrek nie. De Kock het in Januarie parool ontvang, maar dit het verlede week aan die lig gekom dat hy moontlik teen sy sin aangehou word.

De Kock se prokureur, Julian Knight sê hy is deur ‘n tussenganger in kennis gestel dat sy kliënt ontevrede is met die huidige situasie en dat hy met sy lewe wil aangaan.

Volgens berigte word De Kock vir sy eie veiligheid op ‘n geheime plek aangehou.

Huishulp vlug na sy baba mishandel

‘n Swart huishulp is op op vrye voet nadat haar werkgewers op geslote kringtelevisie gesien het hoe sy hulle 15-maande-oue baba mishandel.

Norwood se polisiewoordvoerder, konst Nonzwakazi Tsoanyane, sê volgens die ma, het sy en haar man besluit om hul huis te monitor nadat hulle agterdogtig geraak het.

Tot hul stomme verbasing het hulle gesien hoe die huishulp hul 15-maande-oue babadogtertjie met ‘n hanger slaan.

Die ma het gesê sy kon haar oë nie glo toe die huishulp die kind met ‘n hanger bydam nie.

Dit was nie die enigste geval van swak hantering van haar kind nie, sê sy. Die ouers beweer sy was nalatig as werknemer wat na die kind moes omsien.

Volgens die ma het die kind selfs sonder toesig gespeel met die water in die toilet.

Sy het gesê die laaste strooi was toe die huishulp die vloerpolitoer laat oopstaan het en die kind daarvan geëet het. Die kleinding het ook munte ingesluk.

Al verweer van die huishulp was dat sy “jammer” is.

Volgens die moeder het die huishulp een keer haar kind op die kop geslaan met die koord van ‘n strykyster.

Die ouers het ‘n klag by die Norwood-polisiestasie gelê.