Tim du Plessis en Heilige Koeie

Tim du Plessis sê op RSG se Praatsaam dat iemand hom so 5 maande gelede getelefoneer het en inligting aangebied het wat ooreenstem met die Sunday Times se storie oor Msimang se hospitaal manewales. Hy deel toe die informant mee dat hy wat Tim is, nie belangstel nie en bowendien betaal Rapport nie bronne vir hul inligting nie.

Waarom sou Rapport nie in so 'n storie wat ooglopend in die openbare belang is, belangstel nie? Omdat die bron op vergoeding vir sy storie aandring? Of wil Rapport nie gevaar loop om aanstoot te gee aan die ANC nie en veral die Prez nie?

Koerante en wie ookal het deur die eeue heen maar die hand in die sak gesteek vir 'n nuuswaardige storie. Trouens, daar sou bloedweinig nuuswaardige gebeurtenisse en vergrype deur veral die politici op die lappe gekom het, indien die media nie deurlopend van sogenaamde tjekboek joernalistiek gebruik gemaak het nie. Harde kontant is ook nie die enigste betaalmiddel wat gebruik word nie, daar is talle ander metodes wat deur koerante in die wêreld buite Rapport s'n, met groot sukses gebruik word.

Kom ons aanvaar Tim se storie dat hy nie vir sulke inligting betaal nie. Wat het dan van 'n goeie nuusman se natuurlike instinkte geword? Om 'n 'scoop' te plaas. Ene wat bowendien die waarheid is en nie uit die duim gesuig word nie. Dit is mos duidelik dat die inligting minstens die potensiaal het om van groot openbare belang te wees. Dis 'n lekker storie. Iets wat koerante kan verkoop!

Raait, maar Tim wil nie betaal nie. Sal 'n joernalis wat sy naam werd is, nie in ieder geval voortgaan om die storie te gaan navors nie? Jy het minstens 'n goeie leidraad gekry. 'n Minister wat na bewering sulke vreemde dinge aanvang, in 'n hospitaal nogal, moet mos 'n interessante storie wees! Daar is tog seker heelwat van die hospitaal personeel wat van die manewales weet. Van dokters tot skoonmakers. Soiets kan mos onmoontlik geheim bly. Letterlik tientalle bronne van informasie wat bekom kan word sonder dat jy van 'gesteelde' dokumente hoef gebruik te maak!

Tim en sy koerant sê klaarblyklik toe ook nee vir hierdie moontlikheid en ook sommer koebaai vir 'n lekker storie wat in die openbare belang mag wees, maar ongelukkig nie in Rapport se belang is nie.

Gelukkig is daar nog koerante en redakteurs wat in die tradisie van die koerantwese, bereid is om die heilige koeie wat hulle wangedra, aan te vat! Selfs al weet jy voor jou siel dat jy jou gewildheid by die ANC en die Prez gaan inboet.

Maar ten minste het jy jou geloofwaardigheid en die respek van jou lesers behou. Soos die Sunday Times gedoen het. Dankie vader dat daar nog sulke koerante en redakteurs is!

медицинская справка форма 086 у купитьОлександр Фільчаков прокурор