PUK-rektor se ampstermyn nie verleng

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se bestuur en raad se werksessie oor die instelling se strategiehersieningsproses het die afgelope naweek geduur.

Die hoop bestaan dat die proses teen Junie afgehandel kan wees.

Voorsitter van die raad, Johan Kruger, sê die bestuur, onder leiding van die NWU se visekanselier, Dan Kgwadi, se voorlegging op die werksessie wsê alle belanghebbendes soos die senaat en die institusionele forum is betrek.

Kruger sê ‘n lang voorgestelde proses moet gevolg word voordat die raad kan besluit wie die Potchefstroom-kampus se nuwe rektor sal wees.

Dit kom nadat Herman van Schalkwyk se ampstermyn as rektor volgende jaar op 31 Januarie sal verstryk en dat ‘n regsmening van buite verklaar het dat sy ampstermyn nie verleng mag word nie.

Kruger het vroeër aan OFM-nuus gesê die raad het die naweek, nadat ‘n derde regsmening ingewin is, besluit die raad is nie by magte om Van Schalkwyk se termyn te verleng nie.

Gaan Ban se opvolger ‘n vrou wees?

‘n Veldtog is Sondag op internasionale vrouedag van stapel gestuur om n vrou as sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies te benoem.

Op die webtuiste, www.womanSG.org sal die profiele van ‘n groep moontlike kandidate van tyd tot tyd gepubliseer word.

Die huidige sekretaris-generaal, mnr. Ban Ki-Moon, se termyn verstryk op 31 Desember 2016.

Moontlike kandidate is Unesco se direkteur-generaal, Irina Bokova; die internasionale monetêre fonds se besturende direkteur, Christine Lagarde; Litaue se pres. Dalia Grybauskaite en die Deense premier, Helle Thorning-Schmidt. Onder v.l.n.r. is die Europese Unie se kommissaris, Kristalina Georgieva; die voormalige Nieu-Seelandse premier, Helen Clark en Chili se pres. Michelle Bachelet.