Kuba lei 300 medici vir SA op

Byna 300 Suid-Afrikaners studeer tans in Kuba in 'n mediese rigting, het adjunk-minister Rejoice Mabudafhasi van die departement van waterwese en die omgewing Dinsdag gesê.

Die aantal van 287 is tydens 'n sakeseminaar tussen die twee lande bekend gemaak. Sy het Kuba bedank vir die opleiding van jong Suid-Afrikaners en gesê talle van hulle word leiers.

Meer as 200 Kubaansopgeleide mediese personeel is intussen weer terug in die land en 100 is besig om hul internskap te voltooi. Kubaanse tegniese adviseurs is insgelyks van hulp by meer as 228 behuisingsprojekte.

"Die Masupa-Tsela Youth Pioneer Programme en die werwing van Kubaanse spesialiste na Suid-Afrika sal help om maatskaplike werkers op te lei," het Mabudafhasi gesê en bygevoeg dat die onwikkeling van vaardighede besig is om vrugte af te werp.

Daar is tans 302 Kubaanss spesialiste in die land ontplooi.

Daar is ruimte vir die uitbreiding van olie-ontginning en navorsing in geologie, het sy gesê. Ook in biotegnologie, nano-tegnologie en -wetenskap en klimaatsverandering.

Mabudafhasi het gesê Suid-Afrika het nog altyd teen VN-resolusies gestem wat Kuba van menseregtevergrype beskuldig. Suid-Afrika vra ook dat die VSA hulle ekonomiese, kommersiële en finansiële blokkade teen Kuba moet ophef.

Die adjunk-minister het gesê dit is 'n "destruktiewe" maatreël eerder as opbouend en "die tyd het aangebreek dat dit moet gaan".

Sestig Suid-Afrikaanse sakemense het Mabudafhasi na Havana vergesel.

кукол куколДанильченео