Die nuwe reëls wat van Maandag af geld, laat toe dat mense soveel as 20 000 Zim-dollar kan onttrek, die ekwivalent van 35 Amerikaanse dollar of 25 euro.
Die vorige perk van 1000 Zim-dollar was skaars genoeg om 'n koerant mee te kan koop.
Die perke, tesame met kostes wat steeds styg, het lang toue by die meeste banke tot gevolg gehad. Maar Maandag se toustanery was buitengewoon erg. Die toue was so lank dat sommige strate in Harare onbegaanbaar was vir motorverkeer.
President Robert Mugabe was veronderstel om laat gistermiddag terug te keer van 'n tiendaagse besoek aan die VSA.
Die magsdelingsooreenkoms wat deur Mugabe en die opposisie, die MDC, geteken is, het intussen gedurende Mugabe se afwesigheid tot stilstand gekom.
