Brande vlam weer op in Jonkershoek

‘n Sterk wind oornag het die brand by die Jonkershoekvallei by Stellenbosch in die Boland weer laat opvlam, het RSG berig.

Die assistent-brandweerhoof van die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit, Jaco Thuynsma sê die brand woed nou in die rigting van Stellenbosch en talle eiendom word bedreig.

Die brand, wat reeds ‘n duisend hektaar plantegroei vernietig het, is Dinsdagmiddag glo onder beheer gebring.

Brandbestrydingspanne het egter in die gebied aangebly weens kommer dat sterk wind die brand weer kan laat opvlam.

Thuynsma sê sowat 150 brandbestryders is op die toneel.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie.

Brande op Kaapse Skiereiland eis 12

flatsfireTalle brande het Dinsdag in die Kaapse Skiereiland uitgebreek wat 12 mense se lewens geëis het.

‘n Brand het ook plakkershuise in die Kosovo informele woongebied by Phillipi op die Kaapse Vlakte vernietig en 400 mense dakloos gelaat.

Niemand het egter daar omgekom en geen beserings is aangemeld nie.

Die brandweerhoof, Theo Layne, sê die brand in Phillipi het net voor nege-uur gisteraand uitgebreek en sowat 100 wonings het afgebrand.

Die brandweer het gesukkel om die brand onder beheer te kry weens ‘n sterk wind, het inwoners gesê.

Plakkers het al hul besittings in die vlamme verloor.

Daar was ook brande by Masiphumelele, Khayelitsha, Parow en Tarentaalplaas.

Layne het mense gevra om alle oop vure te blus en verhittings-of kooktoestelle af te skakel voordat hulle gaan slaap. Kook- en verhittingstoestelle moet in ‘n goeie werkende toestand is, het hy gesê.