Staatshospitale in KZN trek swaar

16:01:46 Staatshospitale in KwaZulu-Natal verkeer op die randjie van ineenstorting, en dis net ‘n kwessie van tyd voordat nog pasiënte daar gaan sterf. Dit is die vrees van verskeie senior dokters wat sê dat hulle nie meer weet watter kant toe nie, en dat die personeel onder ondraaglike omstandighede werk.

Verder gebeur dit dat pasiënte sterf wat behoort te oorleef.

Die departement van gesondheid het stellings dat daar ‘n moratorium op die vul van poste is ontken, maar dokters sê dit is onmoontlik om poste gevul te kry.

Ses dokters wat anoniem wil bly, het gesê dat tekorte aan personeel en toerusting die gesondheidsorg benadeel. Die tekorte is veroorsaak deur oorbesteding van 1,2 miljard rand, waarvoor die departement nou probeer vergoed deurposte te bevries en dringend nodige toerusting wat bestel word nie aan te koop nie.

Maandag is ‘n ope brief aan Barbara Hogan gerig, wat die probleme van pediaters uiteensit. Hulle kla oor toerusting wat jare gelede bestel is, maar nie deur die departement aangekoop is nie. Babas wat vroeg gebore is, sterf nou omdat die middele nie aangekoop is nie.

‘n Vrou mwet ‘n buisswangerskap het naby die dood omgedraai nadat daar geen narkotiseur was by die Port Shepstone-algemenehospitaal nie. Sy is toe na die Prince Mshiyeni-hospitaal geneem, het ‘n dokter onthul wat voorheen by Port Shepstone-hospitaal gewerk het.

By Addington-hospitaal is ‘n vrou dood in die wagkamer sonder dat ‘n dokter na haar omgesien het. Haar man het onbewus van wat gebeur buite gesit en wag. Die berig was in die Daily News van 10 Oktober.

Leon Mbangwa, die woordvoerder vir KZN se gesondheidsdepartement het ontken dat poste bevries is. Hy het wel gesê dat sommige staatsamptenare te lui is om die nodige papierwerk te voltooi om te motiveer hoekom kliniese poste gevul moet word.

‘n Spesialis by Addington-hospitaal beweer dat die departement terdeë bewus is van die personeeltekorte in die provinsie en dat die moratorium beslis nie in die personeel se verbeelding bestaan nie, maar ‘n realiteit is.

“Wanneer die hulpdokters Januarie klaarmaak by die hospitaal, gaan daar net 4 dokters wees om met die sowat 3 000 kinderpasiënte te werk, dan is ons vir seker in die moeilikheid.”

Bestuur het al briewe na die departement toe gestuur, maar dit is klaarblyklik soos om met klippe te praat.

‘n Bron by die Port Shepstone-hospitaal sê dat die moreel op ‘n algehele laagtepunt is. Die hospitaal verloor personeel om al die gewone redes, maar sedert April kon hulle nie plaasvervangende personeel in diens neem nie. Teen die einde van die jaar gaan daar net twee narkotiseurs in diens wees. Insidente soos die swanger vrou wat amper dood is, gebeur meer gereeld. Daar was al heelwat gevalle waar die pasiënte amper dood is.

By Addington-hospitaal is daar gereelde tekorte aan personeel en toerusting wat potensieel lewens kan red. Verder is daar tekorte aan dinge soos antibakteriese seep, handdoeke en selfs watte.

‘n Pediater het gesê dat die departement die moratorium regverdig deur gebrek aan fondse te blameer, maar hy het gesê dat min geld nie beteken dat babas by die hospitaal doodgaan. Daar is nie een werkende ventilator vir vroeggebore babas nie, en die resultaat is dat babas alreeds gesterf het as gevolg daarvan.

By Grey’s-hospitaal in Pietermaritzburg is die situasie net so erg. ‘n Bron daar het onthul dat hulle vir ‘n paar jaar reeds geen nuwe toerusting ontvang het nie. "Ons het ‘n probleem met narkosemasjiene en ventilators wat keer op keer breek," het sy gesê.

Daar is ook sprake daarvan dat die kinderafdeling gesluit sal word weens personeeltekorte. Die meeste spesialiste beplan om die land te verlaat.

Mbangwa het gesê dat hy nie bewus was van die kritieke tekort aan narkotiseurs by die Port Shepstone-hospitaal nie.                              

роботи праймлобановский класс