Staatsdiensstaking al hoe meer waarskynlik

Die regering het nog nie ’n mandaat vir ’n salarisaanbod op die tafel nie en staatsamptenare se salarisverhoging moes al op 1 Julie in werking getree het.

Manie de Clercq, adjunkhoofbestuurder van die Public Servants’ Association, het gister gesê: "As dit teen dié trant aangaan, word die moontlikheid van ’n staatsdiensstaking al hoe groter."

Ook Chris Klopper, hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê onderwysers en amptenare is kwaad omdat hul werkgewer nie antwoord op hul eis van ’n 15%-salarisverhoging nie.

Die meerderheid van SAOU se eens gematigde lede het reeds aangedui dat hulle vanjaar sterker arbeidsoptrede beplan.

Niks het nog gekom van die 21 vergaderings wat van 1 Julie tot gister in die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) beplan was waartydens die partye oor amptenare se salarisse moes onderhandel en dit finaliseer nie.

Al die vakbonde het twee maande gelede hul salariseis vir ’n 15%-verhoging by die PSCBC ingedien. 

справка освобождениелобановский политик