Volgens die prefek wat aan die hoof van die noordelike departement in Frankryk staan, Daniel Canépa, is daar maar tussen 5 en 10 stakers wat regtig honger ly. Hy het onderneem om hulle lêers ”dadelik te bestudeer.” Die plaaslike komitee wat immigrante bystaan, het vir hom ’n lys name gestuur van diegene wat hulle meen vinnig geïntegreer sal word en vir wie dit ”gevaarlik” sou wees om na hulle lande van oorsprong terug te keer. Mnr Canépa het onderneem om hulle volgende week persoonlik te woord te staan.
Hy het egter ontken dat die immigrante bang is dat hulle teruggestuur gaan word na Afrika, aangesien hulle braaf genoeg is om langs die vensters van sy kantoor te betoog. ”Net omdat sekere mense ons probeer afpers, beteken nie dat ons die wette van die republiek gaan verander nie,” het hy gesê.
Die immigrante weet egter dat vorige soortgelyke pogings die plaaslike bestuur in ’n staat van paniek gedompel het en daartoe gelei het dat alle betrokke immigrante terstond verblyfreg gekry het. Hulle hoop dus dat dit hierdie slag weer gaan werk.
