Soldate maak amok na afdankingsbriewe

Sowat 2000 afdankingsbriewe is uitgestuur aan soldate wat verlede week aan 'n onwettige optog deelgeneem het, het die minister van verdediging Dinsdag gesê.

"Daar is tussen 1500 en 2000 mense wat ons ondersoek. Ons het kennis van hulle afdanking uitgestuur en hulle het 10 dae om daarop te reageer”, het Ndivhuwo Mabaya, ‘n woordvoerder vir die minister gesê.

Pikkie Greef, nasionale sekretaris van die vakbond Sandu – wat die soldate verteenwoordig – het gesê hulle beplan om 'n hofinterdik aan te vra om die afdankingsbriewe te laat terugtrek.

Sasfu, nog 'n unie, het 'n vergadering met Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, aangevra om die briewe te laat terugtrek.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, wat 62 000 mense sterk is, het onder skoot gekom vir die gebrek aan dissipline wat tans heers.

Die regering het sy afkeur van die optog, wat op 26 Augustus na die Uniegebou onderneem is, uitgespreek.

Die gewelddadige optog is deur lede van die polisie met rubberkoeëls en traangas uitmekaar gejaag toe hulle by die Uniegebou probeer inbreek het. 'n Polisievoertuig is ook aan die brand gesteek volgens beeldmateriaal wat op die SAUK vertoon is.

"Om ‘n hofbevel teen te staan en in die Uniegebou te probeer inbreek is heeltemal onaanvaarbaar, veral van mense wat verantwoordelik is vir die verdediging van ons land”, het Themba Maseko, regeringswoordvoerder, gesê.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het eweneens 'n ontmoeting met Sisulu aangevra om die kwessie te probeer besleg. Eerwaarde Vuyani Vellem het gesê die SARK ondersteun albei partye. Die weermag moet dissipline handhaaf, maar die soldate het ook die reg om hulleself uit te druk, het hy gesê.

Cosatu het ook aangebied om te help om die geskil op te los.

Die Kommunistiese Jeugliga en die Pan-Afrikanistiese Beweging het in onderskeie verklarings die geweld veroordeel, maar het die soldate ondersteun in hulle griewe.

куртки пальто для девочекДанильченко Юрий Брониславович