Iranse betogers het die ambassade van Saoedi-Arabië in Teheran bestorm nadat ’n Sjiïtiese kerklike, Nimr al-Nimr, Saterdag in Saoedi-Arabië tereggestel is.
Die betogers het daarin geslaag om die ambassadekompleks te betree en brande gestig voordat hulle deur die polisie verjaag is.
Kort daarna het Iran se ministerie van buitelandse sake ’n verklaring uitgereik waarin vir kalmte en respek vir diplomatieke missies gevra is.
Iran se Rewolusionêre Wag het intussen wraak gesweer teen die Saoedi Soenni koninklike dinastie (KSA).
Al-Nimr was gekant teen geweld, en is in Iran as beskermer van Saoedi-Arabië se gemarginaliseerde Sjiïtiese minderderheid beskou.
Al-Nimr, uitgesproke kritikus van die Saoedi-dinastie, is as die leier van die sekte se jonger aktiviste beskou, wat teleurgestel is met die mislukking van die ouer garde om gelykheid tussen Soenni’s en Sjiïte te bewerkstellig.
Die geestelike leier is saam met 47 Soenni’s tot die dood veroordeel. Al-Nimr en drie ander Sjiïte was deel van die grootste massateregstelling in dekades in die koninkryk.
Die gebeurtenis het die hoop op samewerking tussen die twee godsdienstige faksiese verydel.
Sjiïtiese en Soenni-magte in die streek steun opponerende kante in oorloë in Sirië en Jemen, met gerugte dat die KSA ook die Islamitiese Staat steun.
Die webtuiste van Iran se opperleier, ayatollah Ali Khamenei, het ’n foto van ’n Saoedi-laksman en die berugte IS-laksman, “Jihadi John”, met die byskrif: “Enige verskil?” gepubliseer.
In Irak, wie se Sjiïties-geleide regering ná aan Iran is, het vooraanstaande godsdienstige en politieke figure geëis dat diplomatieke betrekkinge met Riaad verbreek word. Hulle bevraagteken ook Saoedi-pogings om ’n streekkoalisie teen IS op die been te bring.
’n Kernooreenkoms met Iran, ondersteun deur Saoedi-Arabië se grootste ondersteuner, Amerika, het min gedoen om Riaad te laat afsien van hul openbare teregstellings.
Die Amerikaanse departement van verdediging het gewaarsku dat Nimr se teregstelling sektariese spanning kan vererger op ’n tyd wat dit noodsaaklik is om dit te laat afneem.
Die gelyktydige teregstelling van 47 mense, 45 Saoedi’s, een Egiptenaar en ’n man van Tsjad, was die grootste teregstelling vir veiligheidsoortredings in Saoedi-Arabië sedert die 1980-terugstelling van 63 jihadistiese rebelle wat die groot moskee in Mekka in 1979 beset het.
