Die aansteeklike slenkdalkoors in KwaZulu-Natal se Creighton Farm-gebied is onder beheer, het die LUR vir landbou en omgewingsake Mtholephi Mthimkhulu Dinsdag gesê.
“Ons het mense na Creighton gestuur om die siekte onder beheer te bring. Ons werk ook aan ‘n entstof om seker te maak dat die siekte nie verder versprei nie.”
Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) is slenkdalkoors ‘n virale siekte wat hoofsaalkik diere affekteer, maar wat ook die kapasiteit het om mense te besmet. Besmetting kan lei tot erge siekte in beide mens en dier, wat hoë sterftesyfers tot gevolg kan hê.
Dinsdag het onbevestigde verslae gelui dat meer as 50 diere dood is in Creighton sedert die uitbraak aangemeld is.
Mthimkhulu het gesê dit is nie nodig om alarm te maak nie, aangesien daar geen tekens was dat die siekte versprei het nie.
Die meerderheid menslike infeksies was as gevolg van direkte of indirekte kontak met bloed of organe van besmette diere. Die virus kan aan mense oorgedra word deur die hantering van dieremateriaal tydens die slagproses.
“Toe ons gehoor het van die siekte het ek dringend ons veeartsenydienste eenheid ingeroep om ‘n plan van aksie uit te werk,” het Mthimhkulu gesê.
Hy het gesê ‘n gesamentlike taakspan wat bestaan uit die regering, georganiseerde landou-unies (KwaNalu en Nafu) en gemeenskapgebaseerde organisasies is in plek gekry om ‘n omvattende plan van aksie op te stel.
