Skote weerklink in Kinshasa

Image

VN-soldate in Kinshasa

Die huis van Jean-Pierre Bemba, voormalige vise-president, rebelleleier en verslane kandidaat in die onlangse verkiesings in die Demokratiese Republiek van die Kongo, word tans omsingel deur weermagsoldate, asook tenks van die VN.

 
Spanning het Dinsdag opgelaai nadat skote om 10-uur die oggend uit die noorde van Kinshasa in die Gombe-woonbuurt weerklink het. Niemand is seker wat die oorsprong van die geweervuur was nie.

’n Westerse bron beweer dat die skote moontlik per ongeluk in die lug afgevuur kon gewees het. Nietemin het winkeleienaars in die omtrek dadelik hul winkels verlaat en laat spaander uit vrees dat Bemba en die weermag op ’n groot skaal kon slaags raak.

Die VN-missie het dadelik 15 tenks na die gebied gestuur om die vrede te help bewaar. Hulle is voor die woning wat omsingel is, opgemerk in ernstige gesprek met Bemba se gewapende magte. Laasgenoemde was kennelik erg ontstoke.

Die vasgestelde datum in terme van ’n vroeëre ooreenkoms waarop Bemba se soldate na hul barakke sou terugkeer met die oog op herintegrasie in die Kongolese weermag, was juis 15 Maart 2007.

Beide rebelleleiers Bemba en Azarias Ruberwa meen dat die 12 polisielede wat hulle voortaan sal moet beskerm nie voldoende is nie en het nuwe onderhandelinge oor die kwessie aangevra.

Ruberwa se wagte is egter nie buite in die straat ontplooi soos dié van Bemba nie en ook nie heel ooglopend onder die invloed van dwelms en drank nie.

Die nuutverkose regering verkies blykbaar “dialoog” met Bemba se mense, maar voorsien nie dat ongehoorsame soldate ontwapen behoort te word nie.

Die VN het die insident Dinsdag as ’n geïsoleerde geval beskryf. “Ons vrees geen georganiseerde aanval nie, maar een of twee individue kan onder die invloed van dagga die situasie laat ontaard,” het segspersoon luitenant-kolonel Didier Rancher gesê.

In die nadraai van die verkiesings van Augustus 2006 het 30 mense in ’n uitbraak van geweld in dieselfde omgewing van Gomba gesterf.

Maandag moes VN-troepe by twee geleenthede tussenbeide tree om Bemba-soldate van regeringsmagte te skei. Westerse ontleders reken dat Bemba 250 man by sy twee wonings aanhou sonder om elemente wat oral om Kinshasa teenwoordig is, by te tel. Ruberwa tel 120 ondersteuners ongeveer.

Die Kabila-regering is egter vasbeslote om diesulkes vas te vat en het by monde van anonieme segsmense belowe dat iets daadwerkliks binnekort gedoen sal word.

каркасные бани фототопкарго отзывы