'n 13-jarige seun is in hegtenis geneem en word aangekla van poging tot moord nadat hy sy onderwyser met sy pa se vuurwapen geskiet het.
Kaptein Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die onderwyser aan die Omar Ebrahim-laerskool in Pretoria is in 'n ernstige toestand in die hospitaal.
"'n Leerder het by die betrokke onderwyser gekla dat die verdagte iets uit sy sak gesteel het. Die onderwyser het glo die kind hieroor geslaan die seun het kwaad geraak."
Die ontstoke gr.7-leerder het toe huis toe gegaan, die kluis se sleutel gevind en sy pa se vuurwapen uitgehaal.
Hy is daarna terug skool toe en die onderwyser, wat in een van die skool se gange gesit het, in sy regterarm geskiet.
"Die verdagte het nie van die toneel gevlug nie," het Ndlazi gesê.
Die seun is in hegtenis geneem vir poging tot moord en sy pa sal van nalatigheid aangekla word.
