Toetse deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Donderdagoggend aangetoon dat Aleksey Goussard met influensa A (H1N1) besmet is.
Die seun kuier by sy pa, Pieter, ’n interne ouditeur in die polisie in Pretoria.
Hy het reeds voor sy vertrek begin siek voel, maar is toegelaat om verder te vlieg nadat paramedici sy koors kon afbring. Aleksey woon by sy ma in San José, Kalifornië.
Hy is in die Netcare-Moothospitaal opgeneem en behandel en is reeds ontslaan.
Die simptome is 'n koors bo 38 ºC plus een of meer van die volgende akute respiratoriese simptome: ’n seer keel, verstopte neus, hoes of spierpyn – soos by seisoenale griep – asook ’n geskiedenis van ’n reis na Mexiko of ander lande waar dié griep in die vorige sewe dae wyd in gemeenskappe uitgebreek het, of naby kontak met ’n vermoedelike of bevestigde Mexikaanse griepgeval sewe dae voordat die simptome kop uitsteek.
Die Nios se riglyne vir die bekamping van die pandemie is as volg:
Was hande gereeld met seep en water, of met’n handreiniger wat alkohol bevat.
Bedek neus en mond met ’n snesie wanneer jy hoes of nies en gooi dit dadelik weg.
Bly weg van oorvol plekke soos sokkerstadions en bly minstens twee meter weg van mense met griepsimptome.
Bly liewer tuis as jy griepsimptome en koors het.
