SA handelstekort vergroot in November

Suid-Afrika se handelstekort het in November vergroot tot R12,1 miljard – grootliks te wyte aan hoër voertuiginvoere en laer edelmetaaluitvoere – het amptelike data Dinsdag getoon.

Die Suid-Afrikaanse inkomstediens het gesê die gaping het toegeneem van R9,8 miljard in Oktober, ten spyte van 'n skerp afname in olie-invoere.

Ekonome wat verlede week deur Reuters ondervra is, het 'n tekort van  R6 miljard voorspel, maar die handelsyfers is tradisioneel moeilik om te voorspel.

Uitvoere het met 17,93% gedaal terwyl invoere met 12,59% toegeneem het. Edelmetale, wat die grootste deel van die uitvoere opmaak, het met 30% gedaal vanweë die swak globale ekonomie.

"Dit is baie meer as wat ons verwag het… en dit is nie 'n goeie syfer nie. Dit toon voortslepende strukturele probleme in ons handelsrekening," het Russel Lamberti, 'n ekonoom by die markontleders ETM gesê.

Die SAID het gesê die saamgestelde handelstekort vir die eerste 11 maande van die jaar was R84,2 miljard, teenoor R68,1 miljard verlede jaar gedurende dieselfde tyd, wat druk plaas op 'n ongesonde lopende rekening.

Die tekort op die lopende rekening, wat met 7,9% van die bruto binnelandse produk toegeneem het in die derde kwartaal van 2008, het op 'n 36-jaar-hoogtepunt van 7,3% vir 2007 verkeer en sal na verwagting toeneem tot 8,9% van BBP in 2010.

Lamberti het gesê die handelstekort mag dalk afneem in die komende paar maande terwyl invoerders en uitvoerders aanpas ná 'n skerp daling in die rand.

Die rand het vanjaar omtrent 27% teen die dollar verloor. Terwyl dit herstel het van 'n ses-en-'n-half-jaarlaagtepunt van 11,88 in Oktober, is meeste ontleders maar negatief omtrent die mediumtermynvooruitsig, deels as gevolg van die hoë lopenderekeningtekort.

дівчачі ігри онлайнФильчаков прокуратура харьков