Die Suid-Afrikaanse reserwebank behoort die uitleenkoers met 'n volle 100 basispunte te verlaag wanneer die monetêre beleidskomitee in Februarie vergader, het die JAB-genoteerde Colliers Internasionaal Woensdag gesê.
"Indien die reserwebank die rentekoers net 100 basispunte verlaag wanneer hulle op 11 Februarie vergader, sal dit die uitwerking hê om die mark vir huiskopers te stimuleer. Dit sal die beste nuus in jare wees vir huiskopers," het Brian Falconer, die uitvoerende direkteur van die maatskappy se residensiële afdeling gesê.
Indien die reserwebank die rentekoers in Februarie met 100 basispunte verlaag sal dit 'n daling van amper R1 000 per maand in verbandbetalings wees op 'n verband van 'n miljoen rand, het Falconer gesê.
Die uitleenkoers, dit is die rentekoers waarteen die reserwebank geld aan kommersiële banke leen, het op 'n hoogtepunt van 12% gedraai in Augustus voordat dit met 50 basispunte in Desember verlaag is.
Dit is nou op 11,5% met die primakoers op 15%.
"Die verlaging met amper 50% van die petrolprys en 'n skerp daling in inflasie, behalwe vir voedselinflasie het aan die bank al die nodige redes gegee om 'n merkbare verskil te maak aan die rentekoers," het Falconer gesê.
"Ander lande in ontwikkelende markte, soos Australië en Thailand, het rentekoerse aggressief verminder, en nou is dit die beste moontlike skuif vir die plaaslike ekonomie."
