Ramallah onthul Mandela-beeld

Dit was ‘n geskiedkundige dag vir die stad van Ramallah in Palestina nádat ‘n ses-meter standbeeld van die voormalige president, Nelson Mandela, onthul is.

Die onthulling kom nadat Ramallah se burgemeester, Mousa Hadid, by ‘n gesamentlike nuuskonferensie Johannesburg se burgemeester, Parks Tau, ontmoet het.

Tau het gesê die Madibastandbeeld is ‘n “simbool van hoop en inspirasie vir die mense van Palestina om hul vryheid te verwesenlik”.

“Suid-Afrika het met die ondersteuning van die internasionale gemeenskap apartheid verslaan, en is dit natuurlik dat ons ons ubuntubeginsels as Afrikane uitbrei en in solidariteit met daardie volke verkeer wat tans verskeie vorme van politieke en humanitêre oproer ervaar.” het Tau.

Die standbeeld, ‘n skenking van Johannesburg aan Ramallah, verteenwoordig ‘n simbool van solidariteit met die mense van Palestina.

Die ses-meter hoë brons standbeeld op die Nelson Mandela-plein in die omgewing van Al-Tireh, is die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars Tania Lee, Christina Salvoldi en Lungisa Kala.

Dit is ‘n maand gelede na Palestina gestuur.

Hadid het gesê die onthulling sal gevier word as ‘n nasionale dag, want die standbeeld van Nelson Mandela “verenig die mense van Palestina en Suid-Afrika”.

“Ons wil nie dat verhoudings hier eindig nie. Ramallah en die mense van Palestina het baie om te leer van Johannesburg en die hele Suid-Afrika.”

Die onthulling kom nadat ‘n sending onder leiding van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Savpr) Ramallah in November 2014 besoek het.

Die besoek het uitgeloop op die ondertekening van ‘n Memorandum van Verstandhouding (MOU) tussen Johannesburg en Ramallah omdat Savpr graag internasionale stad-tot-stad verhoudings en samewerking wil bevorder.