Die Noordwes-Universiteit (NWU) van Potchefstroom het die omstrede Wessels-verslag oor die Nazi-saluut verwerp.
Die universiteitsraad het Donderdag vergader en sal Vrydag weer byeenkom om die verslag van dr. Leon Wessels se taakspan, wat die NWU se “institusionele kultuur” ondersoek het, te bespreek.
Prof. Herman van Schalkwyk, Potchefstroomse kampusrektor, het die gebrekkige verslag veroordeel.
‘n Minderheidsverslag wat mbv prof. Rikus Fick, studentedekaan, en Janco Jordaan, voorsitter van die studenteraad, opgestel is, moet as bylae tot die sogenaamde Wessels-verslag gevoeg word, meen die rektor.
Daarin verduidelik hulle breedvoerig hoe die omstredenheid om die gebruik van die Nazi-saluut hanteer is.
“Dit is moeilik om die foto’s (van die saluut) akkuraat te vertolk sonder om die nodige konteks in ag te neem,” lui die verslag. “Meeste foto’s is grepe uit gechoreografeerde bewegings en die studente se aksies was vir seker nie as ’n Nazi-saluut bedoel nie.”
Beeld het vroeër berig aanbevelings word in die verslag gedoen oor die institusionele kultuur en ingrypings op die Puk-kampus, maar dit is onwaarskynlik dat die Wessels-verslag openbaar gemaak gaan word.
Daar is reeds dreigemente van regsoptrede sou die verslag bekend gemaak word.
