Deur 'n ooreenkoms met 'n drukkersmaatskappy, gaan Google 2 miljoen boeke aanbied waarvan die kopiereg verval het. Die boeke gaan afgehaal of verskeep word van biblioteke, universiteite en ander plekke rondom die wêreld. Google het 'n transaksie beklink met On Demand Books, die vervaardigers van die Espresso Book Machine, wat 'n 300-bladsyboek in minder as vyf minute kan druk, tesame met 'n omslag en 'n gebinde kant.
Hierdie uitgawes gaan waarskynlik omtrent $8 kos, met Google wat $1 in hul sak gaan steek, On Demand Books $1 en die handelaar $3. Die oorblywende $3 behoort die koste van die materiaal en arbeid te dek.
"Google se missie is om die wêreld se boeke meer geredelik beskikbaar te maak," sê Jennie Johnson, woordvoerder van die internetsoekleier.
Die tydsberekening van die alliansie moet Google help om die openbare voordeel van sy breër inisiatief rondom boeke te illustreer, wat tekssoektogte en 'n voorgestelde skikking in 'n regsaksie rondom kopiereg, insluit . Die kontroversiële skikking wag tans vir goedkeuring in New York en het onder spervuur gekom van die VSA se mededingingsowerhede, sowel as Amazon, Microsoft en Yahoo. Die departement van justisie gaan na verwagting Vrydag meer besonderhede oor sy teenkanting in hofstukke bekendmaak.
On Demand Books, die grootste firma van sy soort, bied alreeds 1,5 miljoen titels aan, meestal boeke van die nie-winsgewende Internet Archive. Dit sluit 200 000 titels in wat nog onder kopiereg verkeer.
Die Google-transaksie gaan On Demand se katalogus meer as verdubbel en klassieke werke soos Alice in Wonderland en Jane Eyre binne bereik van miljoene mense plaas.
Die verspreiding sal gebruik maak van On Demand se drukperse, wat in die omgewing van $100,000 kos. Daar is 'n dosyn Espresso Book Machines regoor die wêreld in bedryf, waaronder dié by die Blackwell-boekwinkel in London en by die Universiteit van Michigan.
