ISIS stel video vry na gru-aanval op Franse priester

Die Islamitiese Staat-militantegroep het ‘n video vrygestel van die twee terroriste wat ‘n bejaarde Franse priester tydens ‘n gyselaarsdrama by sy kerk in Normandië keelaf gesny het.

Die video wys die twee aanvallers wat in Arabies hulle steun aan die terreurgroep toesê.

Die twee ISIS-aanvallers het vader Jacques Hamel (84), suster Danielle, nog ‘n non en twee kerkgangers langer as ‘n uur as gyselaars aangehou.

Die onbekende non wat die gru-aanval oorleef het, veg steeds in ‘n hospitaal om haar lewe. Een van die kerkgangers is ook beseer.

Die video is deur ISIS se nuusagentskap vrygestel, maar dit is nog nie deur Franse owerhede geverifieer nie.

Die aanvallers het Dinsdag menslike skilde voor die ingang geplaas om te verhoed dat die polisie die kerk binnestorm.

Een van die aanvallers is geïdentifiseer as die 19-jarige Adel Kermiche, wat twee keer probeer het om na Sirië te reis om by ISIS aan te sluit. Kermiche was op parool.

Skoolvriende sê Kermiche was ‘n stillerige kind en het eers geradikaliseer geraak na die Charlie Hebdo-aanval.

Die twee het ‘n rugsak gehad wat gevul was met iets wat soos plofstof gelyk het, maar die polisie sê dit was nie skadelik nie. Dit het egter ure geneem om die inhoud na te gaan.

Die Gambetta-kerk verskyn op ‘n lys van teikens wat verlede jaar by ‘n ISIS-lid gevind is.

‘n 17-jarige seun, bekend as HB, ‘n familielid van Kermiche, is ook Dinsdag by sy huis in Saint-Étienne-du-Rouvray deur die Franse owerhede in hegtenis geneem.

Die aanvallers is deur skerpskutters dood­geskiet toe hulle uit die gebou gestap het en “Allah Akbar” (God is groot) geskreeu het.

Die priester, vader Hamel, was afgetree en het ingestaan vir die dienende swart priester van die kerk, vader Auguste Moanda-Phuati.

Suster Danielle (foto bo), wat die aanval oorleef het nadat sy in die chaos ontsnap het, hetaan die BBC gesê sy het geweet die twee gaan hulle doodmaak toe sy hulle die kerk sien binnekom.

“Hulle was so gemotiveerd,” het sy gesê. Hulle het op die lidmate geskree en gesê “Julle Christene, julle maak ons dood!”