Beloning vir inligting oor Jozi FM se platejoggie wat glo moor

​Die polisie in Gauteng bied ‘n beloning van R50 000 aan enigiemand wat weet waar ‘n swart Jozi FM-platejoggie is.

Die platejoggie het Sondag na bewering sy meisie in Jabulani, Soweto, doodgesteek.

“Die beloning sal slegs aan iemand gegee word wat inligting kan verskaf wat sal lei tot die verdagte se inhegtenisneming,” het adjudant-offisier Kay Makhubela gesê.

Die platejoggie se meisie is Sondag herhaaldelik gesteek en sy is later dood in ‘n woonstel in Jabulani aangetref.

Hy het glo sy meisie se vriendin ná die moord gebel en aan haar erken dat hy die moord gepleeg het. Hy het sedertdien spoorloos verdwyn.

Jozi FM se bestuurder, Mpho Mhlongo, het Maandag gesê hulle weet nie waar hy is nie. Hy hoop die platejoggie gee hom so gou moontlik aan die polisie oor.