
Pres. Jacob Zuma sê Suid-Afrika reken op Frankryk se steun vir die implementering van ‘n besluit deur die Verenigde Nasies (VN) om nouer samewerking tussen die Veiligheidsraad en die Afrika-Unie se Veiligheidsraad te verseker.
Zuma sê beter samewerking is noodsaaklik om blywende vrede en veiligheid in Afrika te bewerkstellig.
Hy het Maandagaand in Pretoria gepraat by ‘n gala-dinee ter ere van die Franse president, Francoise Hollande, wat op besoek aan Suid-Afrika is.
Hollande het tydens dieselfde dinee gesê dat Frankryk Suid-Afrika se aanspraak op ‘n permanente setel in die Veiligheidsraad ondersteun.
Hollande, wat met die hulp van ‘n tolk gepraat het, sê dit is hoogtyd dat Suid-Afrika die vasteland verteenwoordig.
Hy sê daar is talle uitdagings waarmee Suid-Afrika se hulp waardevol sou wees. – RSG
