Hy het 'n pragtige huis, luukse bakkie en sy eie besigheid wat van niks af opgebou is, een waarop enige sakeman kan trots wees, maar is dit volhoubaar? Die antwoord is nee! Die huidige bestel is nie volhoubaar nie om 'n verskeidenheid van redes waarvan ek slegs een hier wil toelig, nl. lewensruimte.
Daar bestaan buite Orania geen Afrikanerlewensruimte nie, alhoewel sekere woonbuurtes en dalk 'n paar klein dorpies nog as Afrikaans beskryf kan word, is die vinnig veranderende demografie besig om hulle snel in te haal. Die demografiese werklikhede waarmee my oom dus sy opgang vanaf nederige begin in 'n Sunnysidewoonstel boontoe gemaak het sonder universiteitsopleiding of enige geldelike steun is dus nie vir sy kind beskore nie. Indien ek enige Afrikanersakeman moet vertel dat hy sy kinders en kleinkinders selfsugtiglik te na kom sal die argument sterk na vore tree dat hy hulle alles bied wat hy nooit gehad het nie, die beste universiteit en geld. Geld: die Afrikaner se grootste obsessie; nie eers sy liefde vir sy taal ewenaar dit nie. Enige volk wat 20% van sy mense so vinnig verloor aan ander lande moet sy bestaanskrisis raaksien. Die bestaanskrissis waarmee Afrikaners sit, is dat onerkende klassisme 'n baie groter rol in sy vernietiging speel as wat hy besef. Rassisme het darem voordele ingehou. Eerstens het dit sy etniese voortbestaan geregverdig en verseker a.g.v. sy eie demografiese verspreiding en tweedens die regverdiging van sy magsbehoud ter verkryging van goedkoop arbeid.
Lewensruimte – en daarmee impliseer ek direk om 'n etniese meerderheid in 'n gebied te wees – kan nie polities afgedwing word nie; bestaande Afrikaanse woonbuurtes word bedien deur ten minste drie keer soveel swart arbeiders as die Afrikaners wat daar woon en daarmee sluit ek besigheid en industrie uit. Selfs indien die uitsondering van 'n besigheid met slegs Afrikaanse werknemers bestaan, word die sekondêre dienste deur ander volke verrig. Afgesien van die Oraniabeweging het geen ander regse leiers of organisasie enige geloofwaardigheid wat die beroep op lewensruimte doen nie aangesien hulle nie self bereid is om sonder daardie goedkoop arbeid te lewe nie.
En soos Mnr. Vaughn dit so mooi opgesom het, is enige aanspraak op n afsonderlike… wel basies enigiets, 'n magsvergryp i.t.v. ons getalle.
Die uiteinde van die saak is dat wanneer my oom se kinders hulle universiteitsopleiding voltooi het, hulle nog vir 'n paar jaar in hul gekose beroepsrigting ondervinding sal opdoen en heel moontlik trou. Maar as die kleinkinders hul opwagting maak, kom daar in sy kinders 'n langertermynuitkyk en die besluit word dan gemaak. Kanada/Nieu-Seeland/Australië/Engeland/Amerika en sy kleinkinders sal hom kultureel nie verstaan nie en hul kinders sal ons Engelse noem.
