Onafhanklike kragverskaffers sal nou danksy die Nasionale Geïntegreerde Hulpbronplan met Eskom kan meeding.
Dipuo Peters, minister van energie, het Donderdag in Pretoria gesê: “Dié plan bepaal wat Suid-Afrika teen 2013 moet hê om kragsekerheid te verseker.”
Peters sê die hulpbronplan maak voorsiening vir tot 1 020 MW krag uit die private sektor in 2011.
’n Nuwe entiteit, die Onafhanklike Stelseloperateur (OSO), wat nie in Eskom gesetel is nie, is deur die departement van energie geskep.
“Die OSO sal verantwoordelik wees vir sake soos elektrisiteitsaankope van onafhanklike kragverskaffers en sal dit moontlik maak om die potensiaal van onafhanklike verskaffers behoorlik te benut. Dié nuwe entiteit kan reeds binne drie maande op die been wees en sal beteken dat Eskom nie langer die speler en die skeidsregter in die plaaslike kragwêreld is nie.”
Eskom se planne om die bou van die Kusile-kragstasie te vertraag om geld te bespaar is ook van die baan.
Volgens die hulpbronplan sal die Kusile-kragstasie nie vertraag word nie en steeds teen 2013 die eerste keer elektrisiteit aan die nasionale netwerk lewer.
Twee hernieubare-kragprojekte, ’n windkragprojek van 100 MW en ’n sonkragprojek van nagenoeg 50 MW, is ook veronderstel om aan die begin van 2010 op dreef te kom.
“Verder is daar voorsiening gemaak vir 1 145 MW se krag vanaf hernieubare-energieprojekte uit die private sektor teen 2012. Dié bepaling in die hulpbronplan beteken kontrakte vir dié elektrisiteit kan nou toegeken word,” het Peters gesê.
“Waar die geld vandaan kom, moet Eskom en sy aandeelhouers uitwerk. Ons kan nie ophou beplan omdat daar nie geld is nie. Ons moet die plan opstel en dan moet die geld gevind word. Kragsekerheid is nie onderhandelbaar nie,” het Peters gesê.
Omphi Aphane, waarnemende direkteur-generaal van elektrisiteit, kernkrag en hernieubare energie, sê die hulpbronplan maak voorsiening vir ’n deurtastende elektrisiteitsbesparingsprogram.
Tot 30% van die krag wat nasionaal opgewek word, word tans vermors volgens Aphane. “Die potensiaal om te spaar is dus enorm.”
Hy het gesê dit is goedkoper om krag te bespaar as om nuwe vermoë te bou.
