Omskep vernedering in eer

Die ANC se president, Jacob Zuma, het verlede week op versoek van die vakbond Solidariteit ‘n verarmde blanke gemeenskap besoek.

Maar vir menige volksgenoot wat oor die kykkassie se nuus gekyk het na dié besoek, was dit in wese vernederend om te sien hoe ‘n Afrikanervrou haar gebroke Engels moet uithaal om by ‘n nie-Afrikaans verstanende Jacob Zuma te pleit dat hy tog elektrisiteit moet gee.  Dit was hartverskeurend enersyds, maar vernederend andersyds om te sien hoe dié vrou byna huilend vertel dat hulle geen elektrisiteit het nie, en of Zuma tog nie maar iets daaraan kan doen nie.  Dit, terwyl Zuma se lyftaal nie besondere simpatie getoon het nie toe hy aandagtig die lug bespied het en slegs kon sê: “Ek is geskok, ek is geskok”.  In Engels natuurlik.

Wat ‘n tragiese dag dat ons eie mense by volksvreemdes moet soebat en pleit om aalmoese.

Ja, natuurlik kan ons die regering met sy affirmative action, swart bevoordeling en blanke haat daarvoor blameer.  En ons doen dit daagliks.

Maar as ons moet sien en toelaat dat ons selfs maatskaplike heil by volksvreemdes moet gaan soek, is daar ‘n geweldige aanklag teen onsself en teen ons kerke.  Waarom is ons as Afrikanergemeenskap nie betrokke by die mense nie?  Waarom het niemand dan al ‘n kragopwekkertjie vir noodgevalle aan die mense voorsien nie?  Natuurlik is dit pragtig om te sien hoedat ‘n bejaarde vrou, wat eers in ‘n watertenk gebly het, nou in ‘n netjiese houthuisie haar intrek kon neem.  Maar die nood is veel groter as dit.

Mense wat werk en inkomste het, kla al dat brandstof- en voedselpryse onbetaalbaar word.  Hoeveel te meer moet dit nie ons verarmde volksgenote raak nie?

Inderdaad is daar ongelukkig ook diegene wat nie belangstel in werk nie, of dit wat hulle kry, verkwansel om voorsiening te maak vir die plesiertjies en sondes van die lewe.  Maar dat armoede ‘n al groter kruipende effek op ons volksgenote het, is waar, en ons sal meer betrokke moet raak en meer innoverend moet dink oor hoe ONS die saak gaan hanteer, want dit mag eenvoudig nooit weer gebeur dat ons verarmde volksgenote by ‘n volksvreemde voor die oë van die wêreld vernederend moet smeek vir aalmoese nie.

Die verarmde volksgenote sal egter ook moet besef dat hulle self die vis moet leer vang, in plaas daarvan om te wag dat die vis elke dag afgelewer word.  Juis met die steeds stygende voedselpryse, en die toenemende skaarsheid van sekere vars produkte, kan dit geleenthede skep vir die vestiging van ‘n soort kibboets-stelsel, waar elkeen sy of haar bydraetjie kan maak om selfversorgend te word, en selfs ekstra te produseer vir die aankoop van ander noodsaaklikhede.

Maar netso belangrik is die rol van ons volkseie welsynsorganisasies.  Dié instellings kan op ‘n tydstip soos dié nie self welsynsgevalle wees nie.  Hulle moet gerat word, bemagtig, om dan die modewoord te gebruik, om volledige diens te lewer.  As ‘n boer ‘n vrag aartappels vir hulpbehoewendes beskikbaar stel, moet daar nie van hom verwag word om dit nog te kom aflewer ook nie.  As iemand ‘n yskas wil skenk, moet die afwesigheid van ‘n bakkie om dit te gaan haal, nie in die pad staan van moontlike verligting wat in ‘n huishouding gebring kan word nie.

En laastens sal veral kinders en kleinkinders weer moet besin oor die Skriftuurlike opdrag om na sy bejaardes en armes om te sien.  Dit bly ons plig, ons s’n alleen, om na ons ou en arm volksgenote om te sien.  Nie Jacob Zuma s’n nie.  Dan kan ons vernedering in eer omskep, want almal weet tog hoe lekker dit is om te kan deel en te kan uitdeel, en sodoende ook ons oumense en armes ‘n eervolle en waardige bestaan gee.

архитектурная подсветка и освещение зданийлобановский депутат