Die bestaan van so 'n groep tussen die tienduisende ander op Facebook het die Noordwes-universiteit (voorheen Potchefstroom) in 'n toestand van skok gedompel.
Die universiteit het Maandag sy "skok oor die bestaan van 'n rassistiese groep op Facebook en die betrokkenheid van sekere van (sy) studente as beamptes van die groep" uitgespreek.
Die universiteit het nie genoem hoeveel studente by die "H..tkop"-groep betrokke was nie, maar 'n woordvoerder, Louis Jacobs, het gesê dat die NWU "gewalg" is deur die bestaan van die groep op die sosialenetwerkblad.
Hy het voorts verklaar dat "Die universiteit reeds met 'n ondersoek na die saak begin het, met die doel om moontlike dissiplinêre stappe teen hulle (die studente) te neem."
Blykbaar het die groep ander rasseterme gebruik wat ewe erg as "h..tkop" is. Daar is selfs gerugte dat een of meer van die rassistiese deelnemers aan die groep woorde soos "k….r", "B..toe", "swartn..f", "Makat..s" en ander sou gebruik het.
Volgens die nuusagentskap Sapa het die groep 'n foto bevat van 'n jong wit man wat 'n vuurwapen vashou terwyl hy oor die trofee van 'n swart seun op die grond buk.
Facebook en die groep se administrateurs is oor die foto in kennis gestel en dit is van die webwerf verwyder.
Die rektor van die Noordwes-universiteit, Theuns Eloff, het gesê die optrede van studente wat rassehaat of geweld teen ander rassegroepe aanmoedig is teenstrydig met die universiteit se waardes.
Eloff het gesê dat hoewel die studente aan die groep deelgeneem het in hul private hoedanigheid, doen dit nie afbreuk aan die erns van hul optrede nie.
Die universiteit het Facebook ook amptelik versoek om die groep te sluit.
Maar intussen is die webwerf oorval deur mense wat daarvan 'n pro-diversiteitsgroep wil maak.
Teen sesuur Maandagaand het die groep 'n foto van 'n uitgebrande motorfiets vertoon en kommentaar deur mense wat "van swartmense hou en met hulle klaarkom".
Diegene wat die groep begin het, is deur ander in hul kommentaar as "rassiste" geëtiketteer.
Daar was ook uitnodigings aan nuwe lede om aan te sluit "solank as wat jy nie 'n flippen rassis is nie".
Die groep het teen daardie tyd 200 trefslae gelok.
Die verklaring van die Noordwes-universiteit is ook Maandag op die groep se webblad geplaas.

'n Nuwe rasherrie het uitgebreek, dié keer nie oor 'n kampusvideo nie, maar rondom 'n tiental studente wat 'n Facebook-groep met die titel "ek laaik nie 'n h..tkop nie, sou what" begin het.