Gewapende rowe by Johannesburgse winkelsentrums

Twee winkelsentrums in Johannesburg het Maandagoggend onder gewapende rowers deurgeloop.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê gewapende rowers het Maandagoggend ‘n selfoonwinkel by die Northgate-winkelsentrum besteel.

Gewapende rowers het ook met ’n groot bedrag geld van die selfoonwinkel in die Northgate-winkelsentrum gevlug, sê Dlamini.

“Twee gewapende rowers het by die die selfoonwinkel ingestap en vuurwapens uitgehaal. Die winkelbestuurder en die werknemers is met vuurwapens gedreig. Die twee rowers het selfone gevat en geld geëis. Hulle het by die winkelsentrum uitgehardloop en met die buit verdwyn. Niemand is in die voorval beseer nie.”

Dlamini sê niemand is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie en die polisie is steeds op soek na die verdagtes.

Ses gewapende rowers het Maandagoggend ook twee sekuriteitswagte van ‘n groot bedrag geld by die Maponya-winkelsentrum in Soweto beroof.

“Twee veiligheidswagte van die Maponya-winkelsentrum was op pad om twee sakke geld bank toe te neem. ‘n Gewapende rower het hulle gekonfronteer en die geld van hulle geëis.

“Nóg ’n gewapende rower het by een van die ingange gestaan en skote gevuur. Vier ander rowers het buite in ’n silwer motor vir hulle gewag. Die ses rowers is met die buit weg.”

Dlamini sê niemand kon die motor aan die polisie beskryf nie.

Vyf mense is Maandagoggend aangerand tydens ’n winkelrooftog in Rosettenville, suid van Johannesburg.

“Paramedici het by die winkel aangekom en die werknemers binne die winkel aangetref. Hulle was sigbaar geskok,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

“Die vyf pasiënte is vir hul beserings behandel en daarna na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Volgens Meiring het hulle ligte beserings opgedoen. Geen verdere inligting is beskikbaar gestel nie.

Die polisie kon ook nog nie verdere kommentaar oor die rooftog lewer nie.