FW speel Dalai Lama op sy eensnaar-ramkietjie

Volgens FW de Klerk is Suid-Afrika “nie meer die baken van hoop” vir ’n wêreld nie. Blykbaar is hy soos Brittanje en die VSA steeds van mening dat plaasmoorde en etniese haatveldtogte “hoop” verteenwoordig.

Dié en ander sotternye is Donderdag by ‘n mediakonferensie gehoor nadat ‘n feodale simbool van Tibet ‘n geleentheid raakgesien het om op Kaapstad se onkoste ‘n bietjie publisiteit vir sy moeë beeld op te wek.

De Klerk en Patricia de Lille het die mediakonferensie van die Kaapse stadsraad gehou om aan te kondig dat die 14de beraad van wenners van die Nobelvredesprys afgestel is.

Die beraad, wat van 13 tot 15 Oktober in Kaapstad gehou sou word, is tot niet nadat sekere pryswenners onttrek het uit protes teen Suid-Afrika se bande met China.

De Klerk het gesê die land se buitelandse beleid behoort die “waardes” van die Grondwet te weerspieël. Dit is klaarblyklik “waardes” wat wit aanstellings soos dié van Renate Barnard in die SAPD laat verbied deur die Grondwethof.

“Om ’n visum aan ’n geestelike leier te weier, is teen die Grondwet en teen gods­diensvryheid . . . dit skreeu teen grondwetlike waardes.”

Volgens De Klerk se soort logika, skreeu niks egter teen die mees ondemokratiese bestel in moderne tye, feodalisme, in Tibet nie.

Die Dalai Lama, wat reeds by verskeie geleenthede sy reise na Suid-Afrika afgestel het, het dié week weer so gemaak en ‘n konferensie wat R60 miljoen sou genereer, gekelder.

Die Tibetaan se besluit val toevallig saam met ‘n kleurrewolusie wat tans in Hong Kong afspeel uit “verset teen China se menseregtevergrype”.

Die mediasirkusbeswaardes se verbintenis tot menseregtevergrype teen etniese minderhede in Suid-Afrika is na dese onder groter verdenking.

Die regering het gesê dit is onsin om te beweer dat die Dalai Lama ’n visum ge­weier is.

“Die man het sy besoek gekanselleer terwyl sy aansoek nog hangende was,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, aan Bloomberg gesê.

​De Klerk het gesê weens die “agteruitgang sedert 2008”, is dié besluit van die Dalai Lama “die punt waarop Suid-Afrika uiteindelik sy aan­spraak verloor het as die land in Afrika wat iets besonders en internasionaal iets edels verteenwoordig het”.

Hy het daarmee sy noue verbintenis tot die Mbeki-era se Boerehaat, korrupsie en plundery bevestig. Sy swak besluit om Suid-Afrika se minderhede uit te lewer aan die genade van swart impi’s, word as iets “edels en besonders” voorgehou.

De Klerk het gesê hy en emeritusaartsbiskop Desmond Tutu, asook die Nelson Mandela- en Albert Luthuli-stigtings, het op 23 September in ’n brief aan die groep dit benadruk dat hulle nie die beraad moet boikot nie.