Kleurlingmans skuldig aan moord op skryfster Winnie Rust

Nigel en Johannes Plaatjies, die beskuldigdes in die moord op die Afrikaanse skryfster Winnie Rust, is vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof deur regter Elize Steyn skuldig bevind. Benewens die moord op Winnie Rust, het die twee ook gepoog om die Rust-woonhuis aan die brand te steek om die spore van hul daad uit te wis.

Winnie Rust. Foto: Wikipedia.

Winnie Rust, wat haar oor ‘n tydperk van jare oor Nigel Plaatjies ontferm het en as sy weldoener opgetree het, is deur hom en sy oom vasgebind en verwurg. Hierna het hulle ‘n gasstoof oopgedraai en ‘n brandende kers daarvoor gelos in ‘n poging om die hele huis te laat afbrand.

Nigel en Johannes Plaatjies het twee goue ringe en skootrekenaars uit die woning weggedra. Hulle het ook die vermoorde mev. Rust se bankkaart geneem en R5000 uit haar rekening onttrek. Die juweliersware is aan ‘n pandjieswinkel vir R1200 verkoop.

Terwyl Nigel skuld beken het op die aanklag van diefstal wat verband hou met die onttrekking van R5000, het Johannes Plaatjies skuld op dié klag ontken. Daarom het die regter slegs vir Nigel aan die diefstal van die R5000 skuldig bevind.

Maar albei die Plaatjies-familielede is, benewens die moord, aan ander klagte van diefstal en bedrog skuldig bevind aangesien hulle gepoog het om kruideniersware en ‘n selfoon met Winnie Rust se bankkaart te koop.

Regter Steyn het in haar uitspraak gesê dat albei “kop in een mus” was sover dit die roof en diefstal betref en “beplan het om voordeel uit Rust se dood te trek… Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat hulle dit saam beplan en betrokke was.”

Hoewel sy albei aan moord op Winnie Rust skuldig bevind het, het sy gemeen hulle is onskuldig aan die klag van poging tot moord op Rust se eggenoot.

Vonnis sal op 5 Februarie 2018 opgelê word.

Winnie Rust-moord: Kleurlingskare klap hande vir aangeklaagde Plaatjies

‘n Kleurlingskare in Wellington het gister ná afloop van verrigtinge in die Landdroshof op die dorp vir die aangeklaagde Nigel Plaatjies hande geklap (sien YouTube-video hier onder). Sowel Plaatjies as sy oom Johannes Plaatjies het op ‘n klag van moord op die 77-jarige skryfster Winnie Rust verskyn. Die ouer Plaatjies het volgens berigte vir die gehoor in die hof gekyk en gelag, waarna iemand in die gehoor op hom geskree het: “Jy lag, jou gemors!”

Nigel Plaatjies se ma, Lien, wat geruime tyd by een van mev. Rust se dogters as huisbediende gewerk het, het oor hom gesê: “Die verlore seun moet nou huis to‎e kom.”

Die saak is gister tot 13 Junie vir ‘n amptelike borgtogaansoek uitgestel. Beide Plaatjies en sy oom ontvang regshulp en daar is gister aan die hof gesê dat hul borgtogaansoek steeds deur hul prokureurs voorberei word.

Die liberale mev. Winnie Rust het onder andere Nigel Plaatjies se uitgawes op atletiek en liggaamsbou finansieel geborg. Sy is grusaam in haar huis doodgeslaan en haar selfoon en bankkaarte is uit haar handsak gesteel. Selfoonseine het agterna die polisie in staat gestel om die Plaatjies-mans vas te trek.

Winnie Rust het haar vermeende bruin moordenaar Nigel Plaatjies ‘befonds’

Die beweerde moordenaar van Winnie Rust, die Afrikaanse skryfster, het gister in die landdroshof op Wellington verskyn. Sy naam is Nigel Amos Plaatjies, is 18 jaar oud en het verlede jaar aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer (foto hier bo).

Plaatjies is gister ongesiens na die hof gebring en die media is nie geleentheid gegee om foto’s van hom te neem, soos die gebruik is nie. Blykbaar het hy ‘n swart sweetpakbaadjie met ‘n hoofbedekking aangehad, terwyl hy sy gesig agter ‘n baadjie weggesteek het.

Daar bestaan egter ongeveer sestig foto’s van Plaatjies wat hy self op Instagram gepubliseer het. Dié foto’s is in PRAAG se besit nadat ons dit vanoggend een vir een van dié sosiale platform afgelaai het. Die foto’s vertel ‘n verhaal van ‘n kleurlingtiener wat oral deur blankes op die hande gedra is, handelsmerksportklere dra, asook foto’s van homself met ‘n iPhone neem. Sy Instagram-fotoalbum bevat inskrywings in cliché-Engels met taamlik gereelde spelfoute waarin hy praat van sy “groot droom” om eendag ‘n liggaamsbouer soos Arnold Schwarzenegger te word, asook in sy atletiekloopbaan te vorder.

Volgens berigte het mev. Winnie Rust en haar eggenoot, die afgetrede dr. Manie Rust, ‘n mediese dokter, hom as middelafstandatleet geborg en het hy die gesin dus goed geken. Nadat hy mev. Rust se hande vasgemaak en haar in haar kombuis vermoor het, het hy glo onder andere haar selfoon uit haar handsak geneem en hom daarmee uit die voete gemaak. Dr. Manie Rust was op die boonste verdieping van die huis en het sy bebloede vrou op die kombuisvloer aangetref.

‘n Woordvoerder van die polisie, konstabel Noloviso Rwexana, het in ‘n verklaring gesê dat “verskeie goedere wat aan Rust behoort het in Plaatjies se besit gevind is toe hy die naweek in hegtenis geneem is”.

Die Hoërskool Hugenote was te geskok om oor die voorval kommentaar te lewer, want tot verlede jaar nog is verskeie foto’s van Plaatjies by atletiekbyeenkomste of saam met onderwysers geneem (sien voorbeeld hiernaas).

‘n Tweede verdagte, wat 34 jaar oud is, is reeds in verband met die moord op Winnie Rust aangekeer en sal vandag in die hof op Wellington verskyn. Sy naam is nog nie bekend nie.

Tot dusver het die familie van Winnie Rust hulle nog nie oor die moord of Plaatjies uitgespreek nie. Sy word eerskomende Donderdag ter ruste gelê.

Benewens reise per vliegtuig heen en weer tussen die Wes-Kaap en ander dele van die land om aan atletiekkampe en -byeenkomste deel te neem waar hy veral in die 800m en 1500m uitgeblink het, het Plaatjies ook ‘n aktiewe sosiale lewe gelei, met blanke vriende van sy ouderdom, waaronder sy vriend Tommy “Boy”Watson met wie hy op Hugenote was.

Nigel Plaatjies en Tommy 'Boy' Watson
Nigel Plaatjies (agter) saam met die gesin van sy vriend, Tommy ‘Boy’ Watson (heel regs).