Verskeie joernaliste, vakbondleiers en honderde aktiviste is al in hegtenis geneem sedert die verkiesing in Maart wat die regerende party verloor het. Gister is die eerste gesagsfiguur wat deel is van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) egter gearresteer.
Heya Shoko, ‘n parlementslid vir die MDC in Masvingo-provinsie – wat voorheen regeer is deur Zanu-PF – is gister in hegtenis geneem na beweerde geweld in sy kiesafdeling.
Ernest Mudavanhu, ‘n kollega van Shoko, was saam met hom toe drie “inspekteurs” hom gearresteer het.
Dié nuus volg nadat die president en die sekretaris-generaal van die vakverbond van Zimbabwe (ZCTU) se aansoek om borgtog geweier is na hul eerste hofverskyning. Hulle is in aanhouding op gronde van beweerde opstokery.
Die MDC se leier, Morgan Tsvangirai, en voormalige president van die ZCTU sal dié week terugkeer na ongeveer ‘n maand in die buiteland. Hy het die verkiesing gewen, net kort van ‘n volstrekte meerderheid.
Tsvangirai het egter voorwaardes vir die beplande uitkloprondte gestel: hy sal slegs deelneem indien die geweld in die land heeltemal gestaak word, die verkiesingskommissie hersien word en laastens as daar buitelandse waarnemers in die land ontplooi word.
Die regering sê op hulle beurt dat Westerse waarnemers nie nodig is nie en dat Tsvangirai nie rede het om vir sy lewe te vrees nie.
“Indien Tsvangirai wel in gevaar is, het ons polisielede wat hom wel kan beskerm,” sê die adjunk-minister van Inligting, mnr. Bright Matonga.
“Ons het geen idee gehad dat hy die land verlaat het omdat hy klaarblyklik vrees vir sy lewe nie. Ons het bloot gedink hy is met vakansie terwyl hy terselfdertyd probeer om steun op te bou in sy poging om Zimbabwe te demoniseer.”
Tsvangirai wat bedreig word deur ‘n klag van hoogverraad is verlede jaar erg aangerand tydens polisie-aanhouding.
Mugabe se minister van Justisie, mnr. Patrick Chinamasa, sê die regering sal nie buitelandse waarnemers toelaat nie, veral nie dié wat sanksies teen hulle handhaaf nie. “Hulle sal weer ons guns wen as hulle die sanksies teen ons lig, andersins is daar geen rede vir ons om ‘n verhouding met hulle te bou nie.”
Geen Westerse waarnemers is in die eerste rondte van die verkiesing toegelaat nie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is erg gekritiseer omdat hulle die verkiesing as vry en regverdig bestempel het.
Die uitslae van die eerste verkiesing is vir vyf weke nie bekendgemaak nie en ‘n datum vir die uitkloprondte is nog nie bekend nie, hoewel die wet sê dit moet binne 21 dae van die vorige verkiesing plaasvind.
Mugabe regeer al vanaf 1980 met Zimbabwe se onafhanklikheidswording en het die laaste verkiesing met 43,2% verloor teen Tsvangirai se 47,9%.
Die Verenigde Nasies en die Europese Unie handhaaf sanksies teen Zimbabwe, nadat Mugabe na bewering die 2002-verkiesing gekook het.
