Slegte week vir leeus in Kenia

Verlede week was ‘n slegte week om ‘n leeu in Kenia te wees.

Donderdag is ‘n tweejarige leeu bekend as Lemek dood aangetref, met ‘n spies deurboor, het die Kenya Wildlife Service gesê.

Die tweede dooie leeu kom net ‘n dag nadat veldwagters van die diens ‘n ander leeu, Mohawk doodgeskiet het omdat hy glo ‘n swarte van sy motorfiets gestamp het.

Die swarte het vermoedelik self afgeval van skrik, maar het nogtans die leeu blameer vir sy geringe beserings.

Die spoor- en pad-projek wat sny deur die hart van ‘n natuurreservaat, Nairobi Nasionale Park, aan die buitewyke van die hoofstad, veroorsaak dat die leeus probeer om te ontsnap op soek na stiller jagvelde, volgens Reuters.

Beide leeus is in die suide van die park, gestig in 1946, doodgemaak. Die park word tans omring deur krotbuurte.

“Voor die konstruksie in die park begin het, het die leeus nie ontsnap nie, so daar is aanduidings dat die geraas en skietwerk hul bewegings beïnvloed,” sê Robert Ndetei, bewaringbestuurder by die Nairobi-kantoor van die World Wildlife Fund.

Die moorde het min verontwaardiging uitgelok, in teenstelling met wêreldwye woede-uitbarstings oor ‘n wit Amerikaanse tandarts ‘n leeu met ‘n kruisboog doodgeskiet het.

Walter Palmer is selfs deur die Zimbabwiese polisie in verband met aanklagte van stropery gesoek. Die Huisgenoot het selfvoldaan na die tandarts verwys as “die mees gehate man in die wêreld”.

Theo Bronkhorst, ’n professionele jagter van Zimbabwe en eienaar van Bushman Safaris in Bulawayo, moes ook in die hof verskyn het op ’n aanklag van die stroop van ene Cecil.

Die oud-CNN-aanbieder Piers Morgan het getwiet : “Ek sal graag die moordenaar-tandarts dr. Walter Palmer gaan jag sodat ek hom kan opstop en op my kantoormuur kan monteer.”

Die TV-persoonlikheid Sharon Osbourne het op Twitter getwiet sy hoop dat Palmer sy huis, praktyk en geld verloor aangesien hy “reeds sy siel kwyt is”.

“Walter Palmer is Satan. Ek weet nie hoe enigiemand ná dít vir tandheelkundige dienste na die man kan gaan nie. Hy is ‘n moordenaar,” het sy in ‘n daaropvolgende twiet gesê.

Richard Dawkins het alle trofeejagters as “sleg” uitgekryt en “olifant- en renosterstropers is nog erger” het hy getwiet.

Die Suid-Afrikaanse supermodel Candice Swanepoel en die Namibiese model Behati Prinsloo was ook besonder vyandig.

“Hoe durf jy, Walter Palmer! Watter plesier kry jy deur so iets te doen? Dit is ‘n seën om die diere lewendig in hul natuurlike habitat te sien. Jy moet siek wees om so ‘n majestueuse skepping van God te wil doodmaak,” het Swanepoel gesê.

Prinsloo het ​op Instagram uitgevaar: “Verveelde idiote wat dink dat trofeejag ‘n sport is, moet gestop word. Hoe kan ons steeds mense toelaat om hierdie ongelooflike diere te jag.”

In teenstelling word die swart plakkers in Kenia wat dié diere doodmaak, nie deur die media of bekendes veroordeel nie. In plaas daarvan word liters ink verspil oor die onafwendbaarheid van die leeus se krimpende habitat.

Kraanvoëls wél vergiftig

‘n Gifkenner sê die voorval waarin honderde kraanvoëls op ‘n plaas by Richmond in die Noord-Kaap vergiftig is, is een van die ergste gevalle wat hy in sy 30-jaar loopbaan nog teëgekom het.

Gerhard Verdoorn sê ‘n toksikologiese ontleding van monsters van die karkasse van die voëls, wat vermoedelik reeds in 2012 vergiftig is, dui aan dat daar hoë vlakke van die gif Diazinon teenwoordig was.

Die voëls is na bewering kwaadwillig met mielies, wat in die gif geweek is, gevoer.

Die saak is nie vroeër ondersoek nie, weens die owerhede se traak-my-nie-agtige houding.

Hy sê die Noord-Kaapse departement van omgewingsake en bewaring asook die polisie is besig met ‘n forensiese ondersoek. Die uitslag word nog afgewag.

Intussen sê Verdoorn, boere van oor die land heen oorval hom met oproepe om hul misnoë te kenne te gee. “Party boere is bekommerd oor die slegte naam wat dit die landbougemeenskap gee. Ek is self bekommerd daaroor, maar die meeste boere wat my gebel het ná hierdie voorval, net soos met die van die aasvoëls, was bitter knorrig omdat dié ou kraanvoëls vergiftig het.”

Verdoorn meen boere het ‘n baie sagte plek vir voëls en sê meeste boere sal in hul lewe nooit ‘n voël vergiftig nie.