Mosie slaag om provinsie Kotane te noem

Die ANC in die provinsiale wetgewer in Noordwes het sy meerderheid gebruik om ‘n mosie goed te keur om die naam van die provinsie na Moses Kotane te verander.

Kotane, ‘n veteraan van die ANC, se oorskot is verlede maand in Moskou opgegrawe en in sy tuisdorp Phela herbegrawe.

Die Speaker van die provinsiale wetgewer, Suzan Dantjie, het die uitslag bekendgemaak. Daar was 22 stemme ten gunste van die naamsverandering, en vyf daarteen.

Die voorstel sal nou ingevolge die reëls van die Grondwet na die Nasionale Vergadering gestuur word.

Die twee hoof opposisiepartye in Noordwes het intussen gesê hulle sal voortgaan om die naamsverandering teen te staan.

Die leier van die DA in die provinsie, Chris Hattingh, sê die beplande naamsverandering is bloot ‘n taktiek van die ANC om die aandag af te lei van die ineenstorting van dienste in die provinsie, asook bedrog en korrupsie.

Die EFF het op sy beurt gesê hulle sal optogte hou teen die nuwe naam en gemeenskappe mobiliseer om dit teen te staan.

Die ANC se Hoofsweep in die provinsiale wetgewer, Hoffman Galeng, het vroeër gesê hy is vol vertroue dat hulle voorstel vir die naamsverandering deur die Nasionale Vergadering goedgekeur sal word.

Hannes Schutte van die Vryheidsfront Plus, sê die geskiedenis het gewys dat dit verkeerd is om ‘n provinsie of land na iemand te vernoem en dat min regerings vir 40 jaar regeer.