‘n Tsjeggiese Europa

ImageVan vandag af is die Tsjeggiese republiek vir ses maande lank voorsitter van die Europese Unie. Dié land neem die leiding by die polities korrekte Franse oor.

Plaaslik word Frans deur die Alliance Française geadverteer as "Le français, langue au service de la diversité" oftewel, "Frans, 'n taal in diens van diversiteit". Hierdie polities korrekte slagspreuk som min of meer Frankryk se buitelandse beleid op, want dié land sien hom toenemend as Europese pleitbesorger vir die Derde Wêreld en dan veral vir Afrika. Hoewel Afrikaners tradisioneel die bevolkingsgroep in ons land is wat die meeste belangstelling en waardering vir die Franse kultuur gekoester het, handhaaf Frankryk vir alle praktiese doeleindes 'n kulturele boikot teen ons.

Met die Tsjegge is dit egter anders gesteld. Die Tsjeggiese president, Vaclav Klaus, is sterk anti-sosialisties en omdat sy land nooit kolonies gehad het nie, ly hy geensins aan die sindroom van wit skuld nie.

Die Afrikanervolk behoort die volgende ses maande as 'n geleentheid aan te gryp om ons griewe aan die Europese Unie oor te dra. Immers is die huidige bestel te wyte aan Britse en Europese inmenging in Suid-Afrika se binnelandse aangeleenthede. In vele opsigte beskou die Europese Unie steeds ons land as 'n kolonie en is hulle voortdurend besig om hulle met onderwys, landbou, verdediging en ander kwessies te bemoei.

Volgens meningsopnames glo die meeste Afrikaners vandag dat daar nie meer 'n toekoms vir hulle oor die langer termyn in Suid-Afrika bestaan nie. Afrikaners glo dat hul eiendom en ander bates, soortgelyk aan dié van blanke Zimbabwiërs, binne die afsienbare toekoms afgeneem sal word en dat hulle waarskynlik gedwing sal word om hul geboorteland te verlaat. Meer as 'n miljoen blanke Suid-Afrikaners het in elk geval reeds uit die land gevlug vanweë geweldsmisdaad en die stelsel van geïnstitusionaliseerde anti-blanke rassisme wat as "transformasie" bekendstaan.

Die Europese Unie se wette en beginsels wat erkenning aan kleiner volkere en tale verleen, maak dialoog met die EU moontlik oor die volgende sake:

  • Erkenning van die Afrikanervolk as 'n nasionale minderheid in Suid-Afrika met 'n eie taal, kultuur, identiteit en afkoms.
  • Erkenning vir Afrikaans as nie net 'n Afrikataal nie, maar ook as Europese taal binne die kader van die "Europese Buro vir Minder Gebruikte Tale". Die groot aantal Afrikanervlugtelinge in veral Groot Brittanje wat van die Suid-Afrikaanse geweld en diskriminasie wegvlug, geniet tans geen erkenning vir hul taal binne Groot Brittanje nie, nóg binne die EU waarvan ons voorouers vandaan kom. Sodanige erkenning vir Afrikaans mag 'n sleutelrol in die oorlewing van ons taal speel, aangesien Afrikaans in die praktyk geen amptelike status meer in Suid-Afrika geniet nie.
  • Erkenning vir die feit dat ons ons in Suid-Afrika bevind vanweë, enersyds, Nederlandse en Britse kolonialisme wat die vestiging van blankes aan die suidpunt van Afrika moontlik gemaak het en, andersyds, Franse godsdienstige onverdraagsaamheid wat ons Hugenotevoorouers uit Frankryk verdryf het. Ons volk het nie net uit die lug geval nie, maar is die gevolg van dié twee historiese feite.

Sedert die 1980s het dit sowel Britse as EU-beleid geword dat die Afrikanervolk nie op enige vorm van soewereiniteit of selfbeskikking geregtig is nie – iets wat in stryd is met die Europese Handves van Regte – en wat vir Suid-Afrika geweldige gevolge het. Een gevolg daarvan is die meedoënlose verafrikanisering van ons eens Westerse land, met 'n verlies aan kundigheid, kapitaal en entrepreneurskap wat uiteindelik op 'n tweede Zimbabwe móét uitloop.

Hierdie soort argumente moet met die EU onder die Tsjeggiese voorsitterskap aangeknoop word. Indien dit EU-beleid is dat alle Afrikaners uiteindelik etnies vanuit hul geboorteland gesuiwer moet word, hetsy deur fisieke aanvalle, hetsy deur wetgewing wat hul ekonomiese en opvoedkundige kanse benadeel, dan goed en wel. Maar ten minste sal Afrikaners dan weet waar hulle met die Europeërs staan, terwyl die res van die wêreld ook van hierdie afsydige standpunt sal kennis neem.

Op sy minste, kan ons Afrikaners deur dialoog met die EU vinniger van hul illusies oor die toekoms ontneem. Op sy beste kan ons 'n diplomatieke proses aan die gang sit wat op die duur 'n katalisator kan word om ons mense uit hul moedeloosheid en apatie wakker te skud aangesien hulle sal kan sien dat ons wel eventueel deur die 27 lidlande van die Europese Unie ernstig opgeneem word.

wedding hairАлександр Фильчаков